Twee bestuurders by Cachet Park CID tree uit
Twee senior bestuurslede van die Cachet Park CID, prof. Fika J van Rensburg (hoof uitvoerende bestuurder - HUB) en brig. Kiewiet van Zyl (hoof operasionele bestuurder - HOB) sal net tot 18 Desember hulle verpligtinge by Cachet Park CID waarneem.
Twee senior bestuurslede van die Cachet Park CID, prof. Fika J van Rensburg (hoof uitvoerende bestuurder – HUB) en brig. Kiewiet van Zyl (hoof operasionele bestuurder – HOB) sal net tot 18 Desember hulle verpligtinge by Cachet Park CID waarneem.
Dié twee bestuurders het besluit om nadat hulle kontrakte die einde van die jaar verval het, nie meer by Cachet Park CID betrokke te wees nie. Hulle het ‘n kernrol gespeel om dié nie-winsgewende maatskappy van die grond af te bring en te verseker dat daar ‘n veilige en skoon omgewing vir studente ook buite die kampus geskep word.
Die Noordwes-Universiteit in samewerking met die JB Marks Munisipaliteit het in 2018 die Cachet Park City Improvement District (CID) gestig.
Prof. Fika sê dat dit nou tyd geword het om bietjie te begin afskaal en dat hy en sy vrou, na 50 jaar in Potchefstroom, hulself eersdaags in Montgomery Park in Johannesburg by hulle oudste kinders gaan vestig. “Wie weet, dalk het hulle ook ‘n CID nodig,” spot hy.
Hy beplan om in die eerste jaar of wat net op hulle hervestiging te fokus en dan later weer te werk “aan die verstaan van die Nuwe Testament”. Prof. Fika was ook vir jare nou betrokke by die nuwe 2020-vertaling van die Afrikaanse Bybel.
Kiewiet wat al in 2016 uit die polisie getree het, het net gewag vir sy vrou om af te tree sodat hulle meer tyd het vir die lekker dinge in die lewe. Hulle wil graag meer vir die kinders en kleinkinders in die Kaap en in Johannesburg gaan kuier. “’n Mens moet maar kyk wat kom oor jou pad, maar ek wil definitief ook afskaal,” sê hy.
Kiewiet se doelwit was om misdaad so te beperk dat die Cachet Park area ‘n misdaadvrye sone word. “Ek dink die uitdaging is om voort te gaan met alles wat reeds in plek is en natuurlik nuwe maniere te vind om misdaadvoorkoming so te implementeer dat dit geregverdig is. Volgens hom sal dit nodig wees om wye skakeling met alle rolspelers te hê.
Intussen het die direksie van Chachet park CID op 12 November, na twee stelle onderhoude, besluit om Johan Naude as algemene bestuurder te benoem wat die HUB en HOB pos is wat nou saamgesmelt het. Johan het in 2013 die BA-graad in Gedragswetenskappe by die NWU voltooi en is later as operasionele toesighouer by Ibuhubezi Powerlines aangestel. Hy het daarna besluit om verder te studeer en het sertifikate in gevorderde projekbestuur voltooi. Hy is later as algemene bestuurder by Cermalab in Pretoria aangestel.




