Munisipale bestuurder en finansiële hoof geskors
Die munisipale bestuurder en finansiële hoof van die JB Marks munisipaliteit is verlede Donderdag, 18 Februarie geskors weens beweerde Covid-19 bedrog wat etlike miljoene rand beloop.
Die munisipale bestuurder en finansiële hoof van die JB Marks munisipaliteit is verlede Donderdag, 18 Februarie geskors weens beweerde Covid-19 bedrog wat etlike miljoene rand beloop.
Die woordvoerder van die munisipaliteit, William Maphosa, het bevestig dat die munisipale bestuurder, Lebu Ralekgetho en die finansiële bestuurder, Tumisang Moeketsane, nie redes kon verskaf waarom hulle nie geskors moet word nie.
Hulle het elkeen reeds op 10 Februarie ‘n brief van Thupi Mokhatla, die administrateur, ontvang wat hulle ingelig het dat hy van plan is om hulle te skors tensy hulle redes kan verskaf waarom hulle nie geskors moet word nie.

Sover is vyf hoëlui by die munisipaliteit geskors weens hul betrokkenheid by beweerde bedrog. Die Valke het Kgotso Khumalo (uitvoerende burgemeester van JB Marks), Cyril Henry (direkteur van munisipale dienste en plaaslike ekonomiese ontwikkeling) en Mohau Shuping (opsigter van rekreasie en sportfasiliteite) in Oktober 2019 in hegtenis geneem op aanklagte van vermeende diefstal en bedrog wat met ‘n munisipale trustfonds verband hou.
Die munisipale bestuurder en finansiële hoof is geskors nadat die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) ‘n verslag aan die administrateur oorhandig het waarin hulle onder meer by onwettige verkrygingsprosesse en terugdatering van aankoopdokumentasie betrek word. Ralekgetho en Moeketsane het nie behoorlik rekord gehou van finansiële transaksies nie.
Hulle word daarvan beskuldig dat hulle nie die integriteit van die finansiële stelsel en rekords verseker het nie en dat hulle nie onreëlmatige en onwettige finansiële transaksies onder die stadsraad se aandag gebring het nie. Die ondersoekbeampte van SOE het ook aangedui dat dit moeilik was om tersaaklike dokumente en getuienis te bekom, insluitend die personeellêer van die munisipale bestuurder wat sy diensooreenkoms bevat. Ralekgetho en Moeketsane is as voorsorgmaatreël geskors omdat Mokhatla glo hulle teenwoordigheid kan potensiële getuies intimideer om nie alle feite bekend te maak nie. Hy meen ook die moontlikheid bestaan dat hulle wanbestuur kan voortduur.
Chris Hattingh, DA-raadslid, sê die DA verwelkom die skorsing van die munisipale bestuurder en die hoof van finansies en dat skorsings en kriminele klagtes lank reeds verwag was. “Die ouditeur-generaal het in sy mees onlangse verslag oor die JB Marks munisipaliteit weer eens, soos in meer as ‘n dekade se vorige verslae, beklemtoon dat daar geen gevolge, soos vereis in die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFMA) was vir enige finansiële wanbestuur nie.
Hy sê dat die totale bedrag vir onregmatige en ongemagtigde uitgawes, vrugtelose en vermorsde uitgawes in die 2019 verslag van die ouditeur-generaal op ongeveer R3,1 miljard te staan gekom het.
“Die vrugbare teelaarde vir bedrog, korrupsie en diefstal in die JB Marks munisipaliteit het gedurende die afgelope jare onder die leierskap van die gearresteerdes en geskorstes floreer en die betrokkenes het weggekom sonder enige gevolge, hetsy krimineel of dissiplinêr,” sê Hattingh. Volgens hom sal slegs ‘n omvattende politieke en bestuursverandering die plundering stop. “Dienslewering moet ‘n prioriteit wees om normaliteit in die munisipaliteit te herstel.”




