Potchefstroom Gimnasium se atlete is weer in top vorm vir die 2021 atletiekseisoen nadat daar by die afgelope interhuis puik uitslae behaal is. Nege rekords is Saterdag, 20 Februarie op die NWU McArthur-stadion gebreek en een geëwenaar. Weens Covid-19 regulasies was daar geen toeskouers by die byeenkoms nie. Danielle Verster (dogters o.19 800m en 1500m) en Armand Willemse (seuns o.17 gewigstoot en spiesgooi) het albei twee rekords gebreek.
Verster het in die 800m ‘n tyd van 2:20:13 opgestel om ‘n 35 jaar oue rekord te verbeter. Sy het ook in die 1 500m in 04:32:68 oor die lyn gehardloop. Die vorige rekord is in 1996 opgestel en Verster het daardie rekord met 18 sekondes verbeter. Willemse het in die seuns o.17 spiesgooi ‘n afstand van 74.67 behaal en so ook die 70 meter merk oortref. In die gewigstoot het Willemse die gewigstootbal 16.45 meter laat trek.
Lee-Ann Grobbelaar het die dogters o.17 spiesgooirekord met ‘n gooi van 45.75 meter verbeter, terwyl Amé Keyser ‘n afstand van 41.94 in die dogters o.15 spiesgooi behaal het om ‘n nuwe rekord op te stel.
Die nuwe Gimmie Gr.8-atleet, Jamoré Olivier, het in die dogters o.14 gewigstoot ‘n afstand van 13.32 meter behaal.

Op die baan het Emma Joubert (dogters o.14 300m hekkies) ‘n nuwe rekordtyd van 49.17 sekondes behaal. In die seuns o.16 1 500m-item het Rico Leijenaar ook met ‘n tyd van 04:17.88 sy naam in die rekordboeke ingeskryf. Daardie spesifieke rekord is na 42 jaar gebreek nadat die vorige tyd van 04:22:00 in 1979 opgestel is. Jeanne Visser het die hoogspringrekord vir dogters o.19 met ‘n sprong van 1.70 meter geëwenaar.








