VLU-voorsitter trap diep spore vir vroue
Flo Groenewald is ‘n formidabele vrou - netjies, afgerond, georganiseerd en sommer net ‘grênd’. Presies wat ‘n mens van ‘n voorsitter van die Vroue Landbou Unie (VLU) sal verwag. Tog is sy nie ‘upstairs’ nie. Sy het vir 51 jaar as bestuurslid van die VLU se Leeuhart-tak gedien.
Flo Groenewald is ‘n formidabele vrou – netjies, afgerond, georganiseerd en sommer net ‘grênd’. Presies wat ‘n mens van ‘n voorsitter van die Vroue Landbou Unie (VLU) sal verwag. Tog is sy nie ‘upstairs’ nie. Sy het vir 51 jaar as bestuurslid van die VLU se Leeuhart-tak gedien.

Lede sal haar altyd vir haar sagte hart, goeie sin vir humor en absolute toegewydheid onthou. Sy voel aangedaan as sy vir almal in Potchefstroom moet totsiens sê. “By die VLU maak jy lewenslange vriendinne,” sê Flo met groot heimwee. Na 23 jaar as voorsitter, het sy bedank en trek sy en haar man Hentie, Klerksdorp toe om nader aan hulle kinders en kleinkinders te wees.
Haar betrokkenheid by die VLU kom ‘n lang pad. Sy was vir 53 jaar lid van dié organisasie en vertel graag oor die belangrike bydrae wat dié organisasie in die gemeenskap maak. (Diegene wat gedink het dis ‘n vereniging vir koekies bak en skinder, moet nou mooi lees). Flo vertel dat die VLU een van ‘n paar organisasies is wat by die Wêreldbond van Plattelandse Vroue geaffilieer is. Die Wêreldbond het meer as 10 miljoen lede regoor die wêreld wat in 87 lande vir die opheffing vir vroue en kinders werk. Hulle is ook lid van die Verenigde Nasies.
Terloops, verlede jaar is ‘n Suid-Afrikaanse vrou en VLU-lid, Magdie de Kock, tot wêreldpresident van die Wêreldbond van Plattelandse vroue in Australië verkies. Die eerste keer in dié organisasie se 90-jarige bestaan wat ‘n president uit Afrika gekies is. Net soos die Wêreldbond beywer die VLU hulle om vroue te bemagtig en was dit die beweegrede vir die ontstaan van dié organisasie.
Die Suid-Afrikaanse VLU (SAVLU) is in Oktober 1931 gestig juis om vroue op te hef omdat daar in die verlede min geleentheid vir vroue was om hoër opleiding te ontvang. Landelike gebiede was grootliks geïsoleer en daar was ‘n groot behoefte aan sosialisering. Op die webtuiste van die SAVLU word die geskiedenis van die VLU mooi uiteengesit. Hier bevestig die organisasie dat daar tussen 1929-1932, tydens die depressie, ‘n groot geldnood was waar die vrou verplig was om tot die gesinsinkomste by te dra en huishoudelike produkte ten volle te benut. Daar was ‘n behoefte om die landelike gemeenskappe te verbeter.
“Die Leeuhart-tak in Potchefstroom is op 21 Junie 1957 by twee plase, Leeufontein en Hartbeesfontein, gestig. Vandaar die naam Leeuhart,” verduidelik Flo. Volgens haar is die VLU maar soos die universiteit vir die volwasse vrou. Met al die demonstrasies, opleidingsessies en sprekers wat oor aktuele sake praat, word lede se kennis nie alleen uitgebrei nie, maar kry hulle ook die geleentheid om hulle talente te ontdek en te verbeter en kan hulle met waardigheid hulle plek in die samelewing vol staan.
In die Noordwes provinsie val die Leeuhart-tak onder die Sonneblomstreek. Flo is tevrede oor die bydrae wat sy as voorsitter by die VLU Leeuhart-tak gemaak het, en is gereed om aan te beweeg. “Ek het soveel wonderlike hartsvriendinne gemaak wat ek nooit sal vergeet nie,” sê sy. Met haar uittrede wil sy in die besonder ook haar man, Hentie, bedank wat haar deur al die jare ondersteun het om haar passie uit te leef.



