CommunityNewsNewsPhoto Galleries

NWU-inentingstasies gee momentum

Die NWU-massainentingstasie wat Vrydag (16 Julie) by die groot Dampadeetsaal van Veritas manskoshuis op die Potchefstroomkampus geopen het, loop soos ‘n goed geoliede masjien.

Die NWU-massainentingstasie wat Vrydag (16 Julie) by die Dampadeetsaal op die Potchefstroomkampus geopen het, loop soos ‘n goed geoliede masjien. Mense sover as Koppies in die Vrystaat meld hier aan om hul Covid-19 intentings te ontvang en is bly om juis oor ‘n naweek gehelp te word.

Volgens prof. Awie Kotzé, dekaan van gesondheidswetenskappe aan die Noordwes Universiteit (NWU), is hierdie inentingstasie voorlopig van Vrydae tot Sondae vanaf 08:00 – 16:00 oop vir enige lid van die publiek wat kwalifiseer om inentings te ontvang. “Tans word niemand van 35 jaar en ouer hier weggewys nie”, sê hy vriendelik. Hier help hulle jou om ook te registreer en kan jy daarna dadelik vir die inenting aanmeld. Volgens prof. Kotzé is hierdie stasie voorlopig net van Vrydae tot Sondae oop, maar dit kan later verander om ander weeksdae ook in te sluit.

Twee aptekers, Dylan Hart en Angelique Middel, besig om die vaksines voor te berei. Foto: Venessa van der Westhuizen

‘n Soortgelyke massainentingstasie is op die Mahikeng-kampus op die been gebring. Die Vanderbijlpark-kampus het nie ‘n inentingstasie nie omdat dit onder Gauteng val.

Die stasies in Potchefstroom en Mahikeng is met goeie koördinering in ‘n rekordtyd opgerig. Prof. Bino Luke, koördineerder van die Noordwes inentingsprogram, het prof. Kotzé voorverlede naweek gekontak om te vra of die NWU by die inentingsprogram betrokke kan raak. Prof. Kotzé het, sonder aarsel, binne vier dae die twee inentingstasies georganiseer en verlede Vrydag 08:00 was die personeel van elke kampus eerste in die ry om ingeënt te word.

Op die Potchefstroomkampus is daar altesaam 110 personeellede en studente wat vrywillig met die hele inentingsprogram help. “Die universiteit sien hierdie as ‘n geleentheid om diensbaar vir die gemeenskap te wees en stel graag hulle kundigheid in die gesondheidsprofessies, soos aptekers en verpleegpersoneel, beskikbaar om met die groot taak te help. Hierdie is ‘n groot spanpoging en sonder die ondersteuningspersoneel van IT, die fisiese infrastruktuur en beplanning sou ons dit nie so vinnig kon doen nie. Die doel van die stasie is om die land te help om so vinnig as moontlik die kudde-immuniteit te bereik”, sê prof. Kotzé.

Prof. Alida Herbst, administratiewe koördineerder van die Potchefstroomse inentingstasie en direkteur vir psigososiale gesondheid aan die NWU, sê dit neem ‘n pasiënt gemiddeld 20-30 minute om deur die hele inentingsproses te gaan. Dit sluit die wagperiode van 15 minute nadat ‘n pasiënt ingeënt is in.

Regs agter: Prof. Alida Herbst en Minette van der Westhuizen is besig om ‘n pasiënt te registreer.

Dr. Elsabé Bornman, adjunkdirekteur vir die Skool van Verpleegkunde, is die bestuurder van die inentingstasie in Potchefstroom. Sy sê die stasie se uiteindelike mikpunt is om 1000 -1200 mense per dag in te ent. Volgens hulle statistieke is hulle vinnig oppad om die mikpunt te behaal. Die aantal pasiënte wat op die eerste dag ingeënt is, was 402 terwyl Saterdag se eindtotaal reeds 749 was.

Mense wat vir inenting aanmeld, moet die NWU-ingang by Gerrit Dekkerstraat gebruik en onthou om hulle identiteitsdokument saam te neem. Indien hulle lid van ‘n mediese fonds is, moet hulle die lidmaatskapbesonderhede ook beskikbaar hê. Daar word ook ‘n beroep gedoen op ouers om asseblief nie hulle kinders saam te neem na die inentingspersele nie aangesien kinders nie toegelaat word nie.

Pasiënte wag vir 15 minute na hul inenting voor hul mag vertrek. Foto: Venessa van der Westhuizen

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button