‘n Bekende gesig by die NWU Swemklub gaan nou die leiding neem om die junior swemmers na die top vlak te neem.
Van Zyl Brand, ‘n oud-Gimmie en een van die NWU se top swemmers, is as die nuwe hoofafrigter van die NWU Junior Swemklub aangestel.

Hy vervang vir Mickey Olivier wat in April ‘n aanbieding uit die Kaap aanvaar het. Brand en hulp-afrigter, Franco Adendorff het voorheen saam met Olivier gewerk en sodoende is die oorgang seepglad.
“Ek wil swem as n sport bevorder (plaaslik en in die Noordwes) en graag die puik fasiliteite en kundigheid waaroor van ons skole en die Universiteit beskik, beter benut. Potchefstroom bied baie geleenthede en volop talent – ons beskik dus oor die vermoë om hoë kwaliteit swemmers te lewer en om die sport in die breë sin te bevorder,” verduidelik Brand sy plan vir die klub.
Hierdie swemliefhebber se lewe is eintlik onlosmaaklik van die sport aangesien hy al vanaf kleuterskool in swemgalas deelgeneem het.
“Ek het al in my laaste jaar op kleuterskool vir Laerskool Mooirivier in die Super12 reeks geswem! Afrigting is eintlik ‘n logiese volgende stap, dit was bedoel om te gebeur,” beaam hy.
Volgens Brand wil hy ook graag ‘n omgewing skep waar jong swemmers karakter kan ontwikkel aangesien buiten die fisiese impak, daar ook ‘n sterk emosionele en psigologiese aspek is.
“Behalwe vir die gesondheidsvoordele, leer swem jou talle lewensvaardighede. ‘n Swemmer leer onder andere dat die vlak van prestasie afhang van die hoeveelheid werk en inspanning wat ingesit word. Sukses is afhangend van die individu. Om suksesvol te wees as swemmer, is grotendeels ‘n kop-ding. Wanneer jou lyf toegee onder die druk van fisieke inspanning, moet die wilskrag en motivering oorvat. Dit is iets waaraan elke dag gewerk word. Swem is ‘n individuele sport, al word dit binne groepverband beoefen,” meen Brand.
Motivering is iets wat natuurlik vir Brand kom. Hy noem dat hy sy inspirasie vanuit mense om hom kry wat suksesvol is en uitsonderlike prestasies bereik.
“Ek het oor baie jare saam met swemmers kompeteer wat uiteindelik hul Olimpiese droom bereik het – my kompetisie in die rugslag items was Christopher Reid (wat ‘n top 16 finalis was by die 2016 Rio Olyimpiese Spele), Zane Waddell (wêreldkampioenskappe in die 50m gewen in 2019), Pieter Coetzee (tans SA se beste swemmer in die 100m rugslag en 200m rugslag). Ander groot name sluit in Chad le Clos en Gerhard Zandberg. Ek raak ook baie opgewonde oor die werk van iemand soos prof Pieter Kruger, wat nou in Tokio is as die Olimpiese Spele span se sportsielkundige,” sê Brand.
In die swembad het hierdie begaafde swemmer in 2020 vir die SA Senior Nasionale Kampioenskappe gekwalifiseer maar weens Covid-19 het die byeenkoms nie plaasgevind nie. Tans fokus Brand op sy studies en oefen hy graaf vir gesondheidsredes.
“As jy heelmiddag afrig, kom jy nie self baie in die swembad nie! Ek sal wel graag in die toekoms weer kompeterend wil swem,” meen hierdie swemmer wat volgende jaar graag ‘n nagraadse studie in sielkunde of bedryfsielkunde wil aanpak met die oog om in sportsielkunde te spesialiseer.
Die NWU Junior Swemklub maak in die winter van die verhitte swembad by Potchefstroom Girls High gebruik en in die somer vind oefening by ‘n groot 10 baan swembad by Potchefstroom Gimnasium plaas.
“Ek is trots op die goeie verhouding wat ons het met die top gehalte skole in die dorp,” vertel die oud-Gimmie wat medaljes in sy tyd as skoleswemmer ingeryg het.
Nou het hy die geleentheid om ‘n nuwe generasie se medaljedrome waar te maak.
Vir meer inligting skakel vir Van Zyl Brand by 0827069097.



