J.B Marks trio se verhoor begin eersdaags
Die verhoor van die drie munisipale amptenare van die J.B Marks munisipaliteit wat aangekla word vir bedrog en diefstal sal op 11 Oktober in die Ventersdorpse streekshof begin.
Die verhoor van die drie munisipale amptenare van die J.B Marks munisipaliteit wat aangekla word vir bedrog en diefstal sal op 11 Oktober in die Ventersdorpse streekshof begin. Kgotso Khumalo (voormalige burgemeester), Cyril Hendry en Mohau Shuping het vanoggend vir die voorverhoor in die plaaslike landroshof verskyn en onskuldig gepleit op agt aanklagte van bedrog en diefstal wat verband hou met R5 miljoen wat die Noordwes Universiteit in ‘n munisipale trustfonds betaal het. Die fondse is nooit aan die ouditeur-generaal verklaar nie en is na bewering onder meer vir begrafniskostes, studiekostes en ‘n luukse uitstappie na Durban betaal. Geld is na bewering ook verder verduister deur fakture wat vervals is en fondse wat aan ‘n nie-winsgewende organisasie, wat nie bestaan nie, betaal is.
Adv. Geo Nel is die staatsaanklaer in die saak en het 20 staatsgetuies identifiseer wat sal getuig. Adv. Thapelo Khalo verdedig Cyril Hendry en Mohau Shuping en Andrew Morathi Acci is Kgotso Khumalo se prokureur. Die ander verhoordatums is voorlopig op 8-10 November en 1-3 Desember vasgestel. Volgens Henry Mamothame, die woordvoerder van die Die Nasionale Vervolgingsgesag, sou die verhoor wat nou in die Ventersdorpse streekshof plaasvind aanvanklik in Mabatho se hooggeregshof uitspeel, maar die beskuldigdes het aangevoer dat dit groter koste-implikasies sou meebring, daarom is daar besluit om die hofverigtinge na Ventersdorp te verskuif.
Die DA het 18 maande gelede die kriminele aanklagte teen die beskuldigdes aanhangig gemaak. “Ons poging om korrupsie en magsmisbruik te beveg, is nou besig om vrugte af te werp”, sê Chris Hattingh, DA raadslid in die J.B Marks munisipaliteit. Hy het verder die Valke gekomplimenteer vir hulle deeglike ondersoek en gesê dat die DA sal voortgaan om die administrasie tot verantwoording te bring en om gesteelde fondse terug te kry.




