Liggiefees lok duisende van oraloor
Donderdag, 23 Desember om 10:00 eindig Abraham Kriel-kinderhuis se liggiefees amptelik. Inwoners wat nog nie vanjaar die kinderhuis se skouspelagtige terrein besoek het nie word beslis aangemoedig om voor dan ‘n draai te maak.
Donderdag, 23 Desember om 10:00 eindig Abraham Kriel-kinderhuis se liggiefees amptelik. Inwoners wat nog nie vanjaar die kinderhuis se skouspelagtige terrein besoek het nie word beslis aangemoedig om voor dan ‘n draai te maak.
Toegang is R25 per persoon vir volwassenes en kinders en die hekke is van 18:30 tot 22:00 oop.
Diegene wat wel al ‘n besoek afgelê het, is dit eens dat dit vanjaar ekstra spesiaal is, veral omdat dit verlede jaar weens die Covid-19-inperking nie kon plaasvind nie. Die liggiefees het vanjaar op 1 Desember geopen met mense wat in lang rye geduldig gewag het om die feesterrein te besoek.
Christie Saayman, hoof van die kinderhuis, sê ten spyte van gaskunstenaars wat vanjaar nie optree nie, het duisende besoekers uit alle oorde steeds die fees goed ondersteun. Die meeste besoekers wat hulle op een aand gehad het was 2728. “Nie almal op een slag nie”, voeg Christie vinnig by. “Ons hou streng by die Covid-regulasies en laat nie meer as 2000 mense op een slag op die terrein toe nie. Ons het besoekers so ver as Vryburg, Kroonstad, Pretoria, Randfontein en Vereeniging asook Mbombela (Nelspruit) gehad”, sê hy trots.

Die terugvoering wat hulle sover van die publiek gekry het, is oorweldigend positief. “Baie het gesê van al die liggiefeeste wat ons aangebied het, is vanjaar se fees die mooiste. Hulle waardeer die liefde en harde werk wat daarin gegaan het en geniet die lekker atmosfeer, mooi omgewing en voel veilig. Een van die besoekers het selfs gesê die liggiefees het Covid-19 oorwin. ’n Ander besoeker was in vervoering en het vertel dat hy te veel pannekoeke geëet het en daarna net eenkant gesit het om al die liggies te bewonder en al die mense dop te hou en te sien hoe hulle die atmosfeer geniet”, vertel Christie.
Saayman sê die liggiefees is ‘n groot spanpoging van almal wat by die kinderhuis betrokke is. Hulle het al in Maart vanjaar aan die voorbereidings van die fees begin werk en doen alles self – van die ontwerp van die vorms tot die installering van die liggies. Hy sê die kinderhuisbestuur beplan die vorms en strukture van die liggiefees en die kinderhuispersoneel en kinders help regdeur die jaar om die strukture te bou en op te rig. “Die ouer kinders wat tegnies meer vaardig is, help die meeste.” Voordat die fees vir die publiek open, kry die kinders eerste die geleentheid om die fees te geniet.

Op die feesterrein is daar genoeg sit- en eetplek vir al die besoekers en met al die heerlike eet- en drinkgoed op die spyskaart kan jy sommer piekniek hou terwyl jy die liggies bewonder. Daar is pannekoek, warm drinkgoed, kerrie-en-rys, boereworsrolle, ribburgers, wafels, koeldranke en alkoholiese drankies te koop. Kerke en welsynsorganisasies bedryf die eetstalletjies wat ook ‘n kans kry om ‘n ekstra inkomste te verdien. Daar is ook ‘n Kersmark wat vanjaar deel is van die fees. Die liggiefees is een van Abraham Kriel-kinderhuis se grootste fondsinsamelingsprojekte. Geld wat tydens dié feestelike geleentheid ingesamel word, word aangewend om onder meer vir die kinderhuiskinders beter gehalte kos te koop en vir ekstra akademiese klasse en sielkundige berading te betaal. Behalwe vir 2020 wat die liggiefees nie kon plaasvind nie, word dit nog elke jaar sedert 2016 aangebied.




