Die Potchefstroom Sakekamer, in samewerking met Hoër Volkskool en Potchefstroom Gimnasium, het besluit om die jaarlikse derby tussen dié skole na nuwe hoogtes te neem.
Vir hierdie geleentheid nooi die Sakekamer, die publiek om vanjaar die akkerlaning vanaf Potchefstroom Gimnasium tot by Hoër Volkskool, wat die gasheer van die Gimmie-Volkie Classic Clash is, asook hulle 100ste bestaanjaar vier, op te maak.
Die akkerlaning is deel van die geskiedenis van die dorp, net soos die twee mededingende skole. Die doel is om twee honderd van die akkerbome onderskeidelik met die twee skole se kleure lap op te maak. Basies sal elke skool saam met die Potchefstroom Sakekamer die gemeenskap vra om ʼn boom vir R450 aan te neem.
Die fondse wat ingesamel word, sal ten bate van die skole, sowel as die Akkerlaning-komitee, wat omsien na die welstand van die bome wees.
Op Maandag 23 Mei 2022, wat die afskop van die Gimmie-Volkie Classic Clash is, sal die twee skole en die Sakekamer mekaar simbolies in die middel tussen die skole by Snowflake ontmoet.
Daar sal ʼn seremonie saam met die hoofde, die kapteine van al die eerste spanne wat gaan deelneem, die bestuur van die Sakekamer, asook die media wees.

Om hierdie rede het die betrokkenes besluit om vanjaar klein af te skop met die doel om oor vyf jaar (2027) aan hierdie derby sy regmatige plek te besorg. Daar is geen rede hoekom hierdie jaarlikse geleentheid nie dieselfde status as byvoorbeeld die Paarl Gim- en Paarl Bois High-derby kan geniet nie.
Die betrokkenes is dit eens dat gesonde kompetisie en uitmuntende sportmangees nie net op die veld nie, maar ook ten opsigte van die ondersteuners en alumni, die eerste doelwit is.
Daarmee saam is dit ʼn feit dat skole en dorpe se voortbestaan en kwaliteit nie van mekaar geskei kan word nie.
“As ons nie hande vat en Potchefstroom as een van die beste onderrigbestemmings bemark nie, verloor ons nie net ʼn bemarkingsgeleentheid vir Potchefstroom nie, maar ook ʼn geleentheid om die beste vir die jeug te bied,” noem Johan Janse van Rensburg, lid van die Potchefstroom Sakekamer bestuur.
Alle groot dinge begin by die eerste tree en daarom versoek die Sakekamer die gemeenskap, asook die alumni van albei skole, om hierdie inisiatief te ondersteun. Ouers en besighede kan deur die skool van hulle keuse ʼn boom bespreek, of alternatiewelik kan die Potchefstroom Sakekamer gekontak word om ‘n boom te bespreek by 071 608 8775.




