Inkopiegangers kan nou die vrugte van ‘n nuwe glansryke voorkoms by MooiRivier Mall geniet met die grootskaalse opknapping wat op 13 September amptelik voltooi is.
Al drie badkamers is heeltemal opgeknap en het nou ‘n moderne en luukse voorkoms. Dieselfde kan ook van die inkopiesentrum se nuwe teëlvloere en dakligte gesê word, wat met die eerste oogopslag indrukwekkend is.
Volgens Ryno Meiring, bemarkingsbestuurder van MooiRivier Mall, is hulle baie tevrede met hoe die opknapping verloop het.
“Ons is baie gelukkig met hoe modern alles nou lyk. Buiten die opknappings het daar ook nuwe winkels en restaurante (Cotton On, Hennie’s en Bootlegger Coffee Company) by die MooiRivier Mall oopgemaak, wat baie goeie aftrek kry,” noem Meiring.
Foto’s: Wouter Pienaar
Daar is ook ‘n paar nuwe veranderinge waarby inkopiegangers beslis sal baat vind. Selfoonherlaaistasies in die MooiRivier Mall gee kliënte die geleentheid om hulle selfone op ‘n veilige wyse te herlaai terwyl hulle inkopies doen.
“Inkopiegangers sal ‘n spasie kry om hulle selfone te herlaai in ‘n veilige sluitkas. Dit is net nog ‘n diens wat ons lewer.
Die nuwe rusbanke in die Mall het ook ingeboude USB-poortareas waar jy jou foon kan herlaai,” voer Meiring verder aan.
Die gewilde Mugg & Bean koffiewinkel is self ook besig om opknappings te doen en sal binnekort met ‘n nuwe voorkoms, ‘n groot aanwins wees.
“Ons is opgewonde oor die nuwe opknappings by MooiRivier Mall en weet dat inkopiegangers se ervaring baie positief sal wees.”