Bedrogsaak tot vroeg volgende jaar uitgestel
Die egpaar is in September gearresteer op die aanklagtes, maar is toe op R 10 000 borgtog elk vrygelaat.
Ben Otto (68), eienaar van die gelikwideerde maatskappy, RSA Search, en sy vrou, Hannetjie Otto (69) het vanoggend (Maandag, 12 Desember) vlugtig weer in die Potchefstroom landdroshof op aanklagtes van bedrog en geldwassery verskyn.
Die saak is tot 9 Januarie 2023 uitgestel, aangesien mnr. Otto nog op regshulp wag. Die saak was op 23 November 2022 ook uitgestel toe mnr. Otto se prokureur, Johan le Grange as sy regsverteenwoordiger in die saak, onttrek het.

Sy vrou, Hannetjie, word nog deur le Grange, in die saak verteenwoordig.
Die egpaar is in September gearresteer, maar is toe op R 10 000 borgtog elk vrygelaat.
Die Valke se woordvoerder, Kapt. Tlangelani Rikhotso het in September 2022 bevestig dat Otto vir 69 klagtes van bedrog en 31 klagtes van geldwassery aangekla word, terwyl sy vrou van ‘n enkele geval van geldwassery aangekla is.
Potchefstromers het voorheen aan die Herald genoem dat hulle baie geld by RSA Search as beleggingsgeleetheid verloor het.




