‘n Binne grappie, ‘n kennende glimlag, ‘n vinnige ‘fist bump’. Nou is dié afrigtingspan gereed om te gesels. Aanvanklink wonder mens of hulle ernstig genoeg is, maar jy kom vinnig agter dat die twee manne wat vanjaar Tokkies se eerste rugbyspan gaan brei, baie ernstig oor dié saak is. Hendri Labuschagne en MJ de Kock vat vanjaar die leisels by Laerskool Mooirivier se eerste rugbyspan. Labuschagne is al sedert 2019 dié skool se eerstespan afrigter. “Die meeste van my tyd hier by Mooirivier was dit Covid gewees. Verlede jaar was die eerste vol jaar vir my,” verduidelik Labuschagne. “Dit is vir ons belangrik dat elke seun wat hier uitstap ‘n beter, meer afgeronde speler is,” sê Labuschagne. “Ons wil seker maak elke seun kry die geleentheid om te speel. Ons het verlede jaar 11 spanne gehad,” spring De Kock in.
Volgens Labuschagne is daar duidelik ‘n goeie rugbykultuur onder die seuns van Tokkies. Dit is iets waarop hulle wil voortbou. “Daar is al seuns wat my klaar kom vra het ‘wanneer begin die rugby nou meneer’,” lag De Kock. Dit is duidelik dat om kompeterend te wees, vir albei afrigters belangrik is, maar dat wen nie die enigste doelwit is nie. “Ons is die enigste skool in die dorp wat Super 12 speel. Dit is ‘n baie kompeterende kompetisie en ons speel teen skole met dubbel die aantal kinders as wat ons het,” wys Labuschagne uit.
Volgens Labuschagne het hy begin om by hoërskole af te rig, maar dat hy dit nou meer geniet om by laerskoolseuns betrokke te wees. “Dit is baie meer ‘hands on’. Hulle sê mos as jy nog nie ‘n o.9 B-span afgerig het nie, het jy nog nie afgerig nie,” lag hy. “Dit is mos waar jy begin het,” wys
hy vir De Kock uit.
“Ja jis, dit vat amper ‘n uur net om die outjies in ‘n lyn te kry,” skerts hy. Dit is baie duidelik dat die twee
mekaar verstaan en mekaar goed vir die komende seisoen gaan aanvul. Al het nie een van hulle op ‘n hoë vlak rugby gespeel nie, “behalwe daardie een keer vir die Bokke,” grap Labuschagne, is hulle passie vir die spel iets wat jou dadelik tref. “Dit hou mens betrokke by afrigting, die passie en liefde vir rugby. Ons wil die seuns aan die positiewe waardes van rugby blootstel,” sê Labuschagne. Albei se filosofie oor die spel is dieselfde. “Hoe kan mens dit mooi verwoord?,” wonder Labuschagne hardop.
“Positiewe, hardloop, drie druk, rugby,” maak De Kock sy sin vir hom
klaar.