Valkoog: Whatsapp-veldbrande moet met waarheid geblus word
Deesdae versprei nuus op Whatsapp soos ‘n vulkaniese uitbarsting – vinniger en baie moeiliker om te beheer.

Die frase stuur vir my ‘n Whatsapp is al vir lank deel van ons samelewing se daaglikse manier om met mekaar te kommunikeer. Dit het die SMS vervang en tot vele kommunikasiemoontlikhede gelei met die stig van groepe vir die deel van inligting sowel as ‘n wyse om met verskeie kontakte op een slag te kan kommunikeer.
Voor die koms van digitale en sosiale media het nuus soos ‘n veldbrand versprei met die hoofbron wat vanaf tradisionele media soos koerante, tydskrifte, televisie en radio gekom het.
Deesdae versprei nuus op Whatsapp meer soos ‘n vulkaniese uitbarsting – vinniger en baie moeiliker om te beheer.
Die rede vir dit is juis omdat mense ook graag nog petrol op die lavavuur gooi en Whatsapp-boodkappe of stemnotas met inligting vir almal aanstuur. Hulle gaan haal nie hulle brandblussers om eers bietjie navorsing te doen en beheer toe te pas nie.
Die afgelope week was daar ‘n Whatsapp-stemnota wat ‘n soortgelyke vulkaniese uitbarsting laat ontaard het – ‘n stemnota oor geloof en sogenaamde beperkings daarop by die Noordwes-Universiteit.
In hierdie stemnota, wat sedertdien as onwaar, belaglik en ontstellend deur die NWU bestempel is, beweer ‘n vrou genaamd Mira, dat studente nie op kampus mag bid nie en dat alle gelowe behalwe Christene hulle geloof kan uitleef.
Kyk, geloof was nog altyd ‘n groot besprekingspunt, maar iets in daardie stemnota het net nie lekker geklop nie.
Die persoon identifiseer haarself nie met haar volle name en wat haar verbintenis met die NWU is nie? Is sy ‘n student, watter dag neem sy die stemnota op, en waar het sy die kommunkasie gekry? Was dit skriftelik gekommunikeer of het sy op kampus heel moontlik iets gehoor?

In plaas daarvan dat mense die stemnota ad infinitum aanstuur, eie bewerings maak en die NWU met baie vrae peper, was daar dalk ‘n eenvoudiger opsie: Gaan net direk na die bron waaroor die bewerings handel.
Op die NWU se tuisblad was daar alreeds slegs ‘n paar uur na die bewerings ‘n aankondiging dat mense hul nie aan die stemnota moet steur nie – alles is nog goed en mense kan beslis bid en hul geloof uitleef.
Net om dit meer te beklemtoon is daar ‘n lofprys en aanbiddingsweek op die Potchefstroomkampus op dieselfde tyd aangebied waar pastore vir studente bedien wat nie meeste groot kerke in Potch se eerstejaarskampe kon bywoon nie.
In elk geval is dit juis onmoontlik om iemand te keer om te bid – ‘n Mens kan mos in jou eie binnekamer bid en met die Here gesels?
Baie paniek kon heel waarskynlik vermy word as emosiebelaaide boodskappe en bespiegelinge net eers met ‘n knippie sout gevat word.

Ek sê ook nie Whatsapp-groepe gee net valse inligting nie – kyk nou maar die naweek se vloedtoestande in en om Potchefstroom. Daar is groepe gestig en konkrete inligting met foto’s wat wys waar die gevaarlike areas is en watter paaie motoriste moet vermy. Die owerhede op die toneel is daar om die gemeenskap veilig te hou en doen alles in hulle mag om hulle hande uit te reik.
Effektiewe massakommunikasie soos daardie hou die gemeenskap ingelig en spoel soos ‘n koel seebrander oor die vurige valshede wat in ‘n sosiale media era gereeld kop uitsteek.
Dit is ook waar dat as ‘n rokie trek, daar heel moontlik ‘n vuurtjie is.
Die Herald is dan juis daar om vas te stel waar die rook vandaan kom en wat die omvang is.
Besef net, rook kan ook dui op ‘n gesellige familiebraai en nie altyd dat die huis afbrand nie.




