Local newsNewsNews

KSR-voorsitter staaf dat uitsluiting nie rasgedrewe was nie

“Dit is ons morele verpligting as die KSR om te veg vir die regte van ons studente. As iemand daar uitgaan en sê dat mense nie toegelaat word nie omrede hulle is te wit of te swart is, dan sal ek 'n probleem daarmee hê."

Die NWU se kampusstudenteraad (KSR)-voorsitter op die Potchefstroomkampus, Yikumba Andreas, stel dat kapasiteit op die amfiteater die enigste rede was vir die uitsluiting van dorpskoshuise tydens die eerstejaarsverwelkomingsfunksie wat op Saterdag, 11 Februarie plaasgevind het.

In ‘n onderhoud met die Herald op Vrydag, 17 Februarie, ontken hy ook dat die rede vir uitsluiting oor diversiteit enige iets met ras te doen het en dat diversiteit slegs ‘n rol speel rakende verskillende koshuise op en van die kampus wat die universiteit verteenwoordig. Die NWU het ook verlede week gestel dat uitsluiting weens ras volgens hulle ondersoek ongegrond was.

Die NWU KSR-voorsitter op die Potchefstroomkampus, Yikumba Andreas. Foto: NWU

“Daar was geen bespreking waar mense meegedeel is dat hulle “te wit” is nie. Daar is ook niks aan dorpskoshuise gekommunikeer dat hulle “te wit” is nie. Ek het ‘n probleem dat daar aan die media vertel is dat daar ‘n sogenaamde ras-kwessie is. Ek weet nie hoekom dit so gekommunikeer is nie,” stel Andreas.

“Ons het vooraf ‘n ooreenkoms met die dorpskoshuise gehad. Die hoofrede vir die uitsluiting was kapasiteit. Die tweede rede was diversiteit wat beteken diversiteit tussen die studente in dorpskoshuise, kampuskoshuise en privaatstudente. Dit is hoe die kwessie van diversiteit verduidelik is. Die universiteit is divers en bevat verskeie rasse, tale en kulture. Die universiteit het ‘n morele verantwoordelikheid om die prentjie wat werklik bestaan ​​voor te stel,” verduidelik Andreas.

Na hierdie gebeure is die voormalige KSR-sekretaresse, Beàtha Groenewald, van haar amp glo weens vertrouensbreuk verwyder.

Beàtha Groenewald, die voormalige sekretaresse van die KSR. Afriforum Jeug het vir haar regshulp aangebied. Foto: Facebook.

“Ons het opgestaan ​​vir studente en met ‘n oplossing vorendag gekom. Dit is om 50 mense van elke koshuis as ‘n verteenwoordiger by Amfi te hê. Om vir studente op te staan ​​is nie soos sy gedoen het om vir studente te sê dat hulle ‘te wit’ is nie. Ons is ‘n diverse KSR. Dit is nie net nie-blanke studente wat haar uitgestem het nie. Dit was ‘n gesamentlike stemming vir ‘n mosie van wantroue van 12 van ons lede teen Me. Groenewald,” noem hy.

“Dit is ons morele verpligting as die KSR om te veg vir die regte van ons studente. As iemand daar uitgaan en sê dat mense nie toegelaat word nie, omrede hulle is te wit of te swart is, dan sal ek ‘n probleem daarmee hê. Die prentjie wat in die media geskets word, is dat sy (Groenewald) alleenlik vir studenteregte opstaan,” stel Andreas.

Groenewald het sedert haar afdanking regshulp by AfriForum ontvang. Sy het genoem dat dat sy onregmatig afgedank is.

Andreas vertel dat daar tydens ‘n vergadering op Woensdag (8 Februarie) voor die eerstejaarsfunksie eerstens besluit is om nie dorpskoshuise in te sluit nie, omdat hulle nie sou opgedeel wou word nie. Dit het Anneri du Preez (KSR-koshuisbeampe) tydens die verdadering meegedeel.

In totaal is daar 350 studente in elke dorpskoshuis wat op 1750 studente uitwerk. Die kapasiteit van die Amfi is slegs 2850.

Volgens Andreas het die kommunikasie dat dorpskoshuise weens kapasiteitsredes, nie ingesluit sou word nie, nie uitgegaan na die koshuise nie. Die uitleg van die Amfi vir die eerstejaarsfunksie is toe uitgestuur sonder dat die dorpskosuise ingesluit is. Dorpskoshuise se verteenwoordigers het Donderdag (9 Februarie) toe met die visie-voorsitter, Nomvula Chasakara vergader.

‘n Oplossing is voorgestel dat dorpskoshuise wel ingesluit sou word vir diversiteitsredes. Die opsie was dat elke koshuis 50 eerstejaars kon kies om in die Amfi te sit, terwyl die res in ander lokale na die regstreeks uitsending sou kyk.

“Op Vrydag (10 Februarie) is daar in ‘n vergadering saam met Dr. Corrie Rheeder (Direkteur van studentelewe op die Potchefstroomkampus) besluit dat ‘n werkbare oplossing is om 50 eerstejaars van elke koshuis in die Amfi te laat sit. Ons het toe met die vyf dorpskoshuise se primaria vergader en die opsie meegedeel. Ek het toe vir hulle vyf minute gegee om ‘n besluit te neem. Al die koshuise (Dinki, Bellatrix, Lavaria en Villagers) was teen die idee gekant, behalwe Heimat,” noem Andreas.

Die probleem vir vier van die koshuise is dat hulle sou sukkel om te besluit wie die 50 eerstejaars sou wees.

Andreas bevestig ook dat daar aan die koshuise gekommunikeer is dat hulle spasie sou kry vir hulle eerstejaars, as daar plek op die dag is. Op die ou einde kon Heimat sowel as Dinki se eerstejaars die funksie op die Amfiteater bywoon.

Hy stel ook dat kwessies wat konfidensieël in vergaderings bespreek word nie net met die publiek gedeel kan word nie en dat KSR-lede hul daartoe verbind.

“As iemand kommentaar wil hê, sal ek kommentaar lewer. Lede van die KSR kan nie uitgaan en vertroulike inligting deel, sonder om eers met my te konsulteer nie. Maandag (13 Februarie) het ons ‘n vergadering met die prims gehad en probeer om die groter prentjie en die pad vorentoe te verduidelik. Ná daardie vergadering het ons ’n KSR-vergadering gehad en ek het haar (Groenewald) gevra hoekom en sy het nie ontken nie en aangedui dat sy wens dat die ontmoeting met die primaria vroeër kon gebeur het,” het Andreas gesê.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button