Local newsNewsNews

Aanpassingsbegroting goedgekeur ten spyte van talle finansiële rooi vlae

Ná die aanpassing van die begroting gaan daar ‘n kontantvloeiverlies van R56 miljoen wees. Die munisipaliteit is dus R436 miljoen rand slegter af as wat aan die begin van die jaar beplan was.

Die DA en VF Plus is albei omgekrap na hulle besware oor die JB Marks munisipaliteit se aanpassingsbegroting op dowe ore val.

Dit na raadslede van die ANC, EFF en Patriotiese Alliansie (PA) in die JB Marks Munisipaliteit ingestem het om op Dinsdag, 7 Maart weer ‘n onvolledige en nie-voldoende aanpassingsbegroting tydens ‘n spesiale raadsvergadering goed te keur.

Volgens DA raadslid in die JB Marks munisipaliteit, Madra de Bruin, is die aanpassingsbegroting goedgekeur sonder om die finansiële implikasies vir die inwoners in ag te neem.

DA raadslid, Madra de Bruin.

“Dit sal ‘n verwoestende impak hê op ‘n reeds swak diensleweringsrekord. JB Marks sal altesaam sowat R62,2 miljoen se toelaebefondsing verloor,” staaf sy in ‘n persverklaring.

Volgens De Bruin is die munisipaliteit eenvoudig nie in staat om doeltreffende beplanning te doen nie. Dit sluit in om te verseker dat alle verkryging in ooreenstemming is met die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (MFBW) en om kapitaalbeleggingsprojekte te bestuur.

“Die DA in JB Marks het met hand en tand geveg vir die Raad om die aanpassingsbegroting te heroorweeg om die belange van lydende gemeenskappe eerste te stel, maar ons pogings is met politieke retoriek begroet en die skandelike ANC-aanpassingsbegroting is deurgedwing met die steun van die EFF en die PA,” noem sy.

Die volgende kritieke kapitaalprojekte is óf geskrap óf van alle oorblywende befondsing gestroop:

• Noodopgradering van Promosa- en Baipei-pompstasies;

• Noodopgradering van Top City en Ext 9 rioollyne;

• Opgradering van Mohadin Poortjiedam-rioollyn;

• Bou van die Poortjiedambrug by Promosa;

• Opgradering van Promosa Ext 7 pompstasie – Areaganengstraat;

• Opgradering van Potchefstroomse Afvalwaterwerke;

• Tegniese werk oor die opgradering van die Poortjiedam en Ikageng Wes Elektrisiteitssubstasies;

• Opgradering van die Ikageng Sentrale Elektrisiteit Substasie.

Die verkryging van kragopwekkers om water- en rioolaanlegte te bedryf, is glo met ‘n 50%-begroting van R5 miljoen besnoei.

Kenmerke van die JB Marks-aanpassingsbegroting is dat inkomste daal, bedryfsuitgawes styg en dat kapitaalinfrastruktuurprojekte befondsing verloor het.

“Dit is veral kommerwekkend dat groot inkomstestrome, inkomste uit elektrisiteit en waterverkope toenemend aan bande gelê word terwyl nie eens 1% van die geprojekteerde inkomste van R94 miljoen uit hoofsaaklik verkeersboetes ontvang sal word nie,” stel De Bruin verder.

Die VF Plus het ook beklemtoon dat die aanpassingsbegroting verskeie rooi vlae bevat en nie aan die wetlike vereistes van die Munisipale Finansiële Bestuurswet (MFBW) voldoen nie.

VF Plus raadslid, Thys Rossouw.

Die VF Plus noem in ‘n persverklaring dat daar wesenlik minder begroot is en dat die speaker en munisipale bestuurder ook ‘n verdere R 500 000 aangevra het vir administratiewe uitgawes.

“Die begroting vir munisipale dienste en erfbelasting word met R23 miljoen verminder wat ‘n aanduiding is dat die begroting opgeblaas is om beter te lyk as wat dit is. Die grootste probleem is die feit dat die kapitale uitgawes vir water, elektrisiteit en infrastruktuur gesny word met R47 miljoen. Dit strek tot groot nadeel van Potchefstroom aangesien die vervalle waterstelsel ‘n kommerwekkende probleem is wat dringende opgradering nodig het,” VF Plus raadslid, Thys Rossouw.

Ventersdorp se N14-projekte is byna heeltemal ingekort, aangesien die begroting vir die oorhoofse lyne, wat vir die plaasgemeenskappe reggestel moet word, van R4 miljoen tot R500 000 gesny is. Hierdie lyne is byna daagliks af.

Die VF Plus noem ook dat Rossouw in sy posisie as gekwalifiseerde rekenmeester, ook nie ernstig opgeneem is nie en sy vrae afgelag is.

Daar is met die aanvanklike begroting beplan om teen die einde van die jaar ‘n surplus van sowat R380 miljoen aan kontantvloei te hê. Ná die aanpassing van die begroting gaan daar ‘n kontantvloeiverlies van R56 miljoen wees. Die munisipaliteit is dus R436 miljoen rand slegter af as wat aan die begin van die jaar beplan was.

“Die VF Plus het juis kundige raadslede aangestel om te verseker dat die gemeenskap se belange gedien word. Hierdie optrede dui op die onkundigheid van die ANC en ander partye se raadslede. Die inkorting van kapitale uitgawes, wat broodnodig is vir die gemeenskap, maak dit duidelik dat die ANC nie die gemeenskap van JB Marks se belang eerste stel nie.”

“Dit is onaanvaarbaar dat die begroting vir instandhouding en dienslewering verminder word terwyl daar geld is vir onnodige administratiewe luukshede,” stel Rossouw verder.

*Die JB Marks Munisipaliteit is vir navraag genader, maar teen druktyd het die Herald nog nie terugvoer ontvang nie.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button