Ronel Emms: “Daar kan boeke oor haar geskryf word”
As sekretaresse van die Rugbyinstituut en sy hoof, Mervyn Taylor, se assistent, is Ronel Emms verweef in die DNA van die Fanie du Toit-sportterrein.
Sy is die onbetwiste moederfiguur van die Noordwes-Universiteit (NWU)-Rugbyinstituut. Sy is een van die helde agter die skerms. Sy is die vriendelike gesig wat jou eerste groet. Sy is Ronel Emms, en sy het net soveel aandeel in die Rugbyinstituut se bultende trofeekas soos al dáái drieë wat goud ingesamel het.

As sekretaresse van die Rugbyinstituut en sy hoof, Mervyn Taylor, se assistent, is sy verweef in die DNA van die Fanie du Toit-sportterrein. Vanaf die beginjare by die Instituut, waar die eerste afrigters soos Jacques Swanepoel (“Hy was ‘n bok vir sport!”) tot die gesiene Matt Proudfoot (“Hy het baie ambisie gehad, hy het geweet wat hy wil hê.”) die fondasie vir ongekende sukses gelê het, was sy daar. En, vir meer as ‘n dekade en ‘n half is sy Mervyn se regterhand.
“Ons het van die beste afrigters en ‘n administrateur van formaat in Mervyn, sonder hul lang ure, toewyding en liefde vir die spel rugby, sal daar nie ‘n Instituut wees nie en sal ons ook nie die suksesse behaal nie. Ons respekteer mekaar se sienswyses. Hy is ‘n goeie mens om voor te werk. Ons ondersteun mekaar. Hy het ‘n sagte hart, al lyk dit of hy kwaai kan wees,” sê sy met ‘n lag.
En sy?
“Ek probeer altyd om ‘n egalige mens te wees, om altyd dieselfde te wees. My uitgangspunt in die lewe is Galasiërs 5:22 wat handel oor die vrug van die Gees. Dit is vir my baie belangrik.”
Op Maandag 6 Maart het die NWU Eagles teen Maties in hul Varsitybeker-stryd op die Fanie uitgedraf. Van Riaan Genis wat sy troepe op die veld gelei het tot trui nommer 23 was almal vroeër deur Ronel aan die spelers oorhandig. Dit was lekker.
“Ai, dit was ‘n absolute voorreg en eer om dit te kon doen. My hart het bolmakiesie van trots geslaan toe ek elkeen se trui oorhandig het.”
Die NWU se Varsitybeker-afrigter, Burger van der Westhuizen, sê-vra mos nou’rie dag: “Ronel? Daar kan boeke oor haar geskryf word.” Baie lekker. Steeds lekker.
“Ek geniet dit vreeslik om op te staan en werk toe te gaan.”
Nietemin: “Die manne se admin is nie altyd wat dit moet wees nie,” bieg sy speels met ‘n vonkel in haar oog. En, “nee,” sê sy. Die studente gee haar nie gryshare nie. “Mervyn laat dit nie toe nie!”
Hoogtepunte was daar vele: “Al die intervarsities wat ons gewen het. Dit was vir Dok Theuns (Eloff) altyd ‘n groot ding. Ons moet vir Kovsies wen.” Sy beklemtoon daardie ‘moet’ met getuite lippe en ‘n voorkop wat met ‘n skielike frons die erns van die saak beklemtoon.
Op 11 April 2016 word sy ‘n geraamte by die Danie Craven-stadion in Stellenbosch. Onthou, dit was toe die NWU vir Maties in ‘n naelbytstryd om die Varsitybeker-kroon geklop het.
“Ek was uit my vel uit. Ek het aangehou en aangehou skree. Ek het op en af gespring.” Dan, weer eens: “Ek was uit my vel uit.”
Daar is al spottenderwys al vir haar gesê dat sy, soos die gelyknamige sepie, getroud is met rugby. Dit is so halfpad waar. Eerstens is sy ‘n familiemens. ‘n Ma en ‘n ouma. Wederhelfte vir haar ware liefde: “My man, Cooper, is regtig my steunpilaar en ‘n wonderlike mens.”
Soort soek soort, want Galasiërs 5:22 lees: “Die vrug van die Gees, daarteenoor, is liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge het die wet niks nie.”
Dié wat ken, weet dit is nie net 25 woorde wat sy al menigte male gelees het nie.
Dit is sy.






