Toekoms vir ‘M.O.T.H. Shell Hole’ in Potchefstroom
Fritz Botha, wat in Louis Trichardt se Turbi Hills M.O.T.H. ‘Shell Hole’ was, wil graag weer ‘n ‘Shell Hole’ begin in Potchefstroom.

Charles Evenden, anders bekend as M.O.T.H. (Memorable Order of Tin Hats) Zero, registreer die M.O.T.H. orde op 7 Mei 1927 om oudsoldate na die Eerste Wêreldoorlog finansieel te ondersteun. Daar is baie tradisie in M.O.T.H en dit is iets wat weer in Potchefstroom herleef wil word. In 2022 was M.O.T.H. 95 jaar oud, maar die ‘Shell Hole’ (M.O.T.H. Klubhuis) in Potchefstroom bestaan nie meer nie.
Fritz Botha, wat in Louis Trichardt se Turbi Hills M.O.T.H. ‘Shell Hole’ was, wil graag weer ‘n ‘Shell Hole’ begin in Potchefstroom. “Ons probeer die liggie aan die gang hou,” sê Fritz, ‘n inwoner van Groen Wilgers en oud-infanterie soldaat.
Die ontstaan van die M.O.T.H kom nadat Evendon na ‘n besering vir die Natal Mercury in Durban gaan werk het. Hy was ‘n verslaggewer en spotprent tekenaar vir die koerant. Tydens sy verslaggewing het hy opgemerk dat baie soldate na die oorlog nie werk kry nie omdat hulle ledemate vermis of ander kondisies het. Verder het Evenden besef dat die regering nie die kapasiteit het om al hierdie soldate te ondersteun nie en die M.O.T.H. orde is gestig en geregistreer.

Deur die jare het M.O.T.H. begin om skenkings te maak aan ouetehuise en kinderhuise in die land en so raak hulle hand van liefdadigheid baie Suid-Afrikaners aan. Evenden het ‘n wapen vir M.O.T.H. ontwerp wat bestaan uit 12 sterre in ‘n sirkel, twee gewere wat onderstebo staan, ‘n staal hoed wat onderstebo staan met ‘n kers in en die woorde “We Remember Them”.
Die 12 sterre in ‘n sirkel simboliseer die 12 maande in ‘n jaar wat M.O.T.H. oudsoldate sal ondersteun. Die twee gewere wat onderstebo staan simboliseer vrede, en dat daar nie oorlog is nie. Die staal hoed met die kers in simboliseer die voortbestaan van M.O.T.H. Oorspronklik mag jy net aan M.O.T.H. behoort het as jy in die 1e of 2e Wêreldoorlog was, of jou land oor grense heen verdedig het deur grensdiens of diensplig te doen.
Deesdae, om te voorkom dat M.O.T.H. uitsterf, mag jy as volwaardige lid aansluit indien jy deel is van die weermag, die polisiemag, die lugmag of die vloot. Lede van die publiek kan aansluit by die M.O.T.H.-vriende klub indien hulle werklik belangstel in die Suid-Afrikaanse oorlogsgeskiedenis.
Indien jy belangstel, skakel of stuur ‘n boodskap na 082 564 9981 om meer by Fritz uit te vind.