Local newsNewsNews

Baanbrekerswerk met boek oor toegepaste taalkunde in Afrikaans

Prof. Wannie Carstens en prof. Tobie van Dyk het hierdie boek, wat 'n eerste vir Afrikaans is, saamgestel.

Vir die eerste keer in Afrikaans is daar ‘n omvattende boek oor toegepaste taalkunde wat op verskeie dissiplines fokus en Afrikaans se rol in verskeie kontekste in ‘n gebruikersvriendelike wyse saamvat.

Prof. Wannie Carstens, emeritus professor aan die Noordwes-Universiteit en navorsingsgenoot van die Afrikaanse Taalraad in samewerking met prof. Tobie van Dyk, dosent in toegepaste linguistiek en akademiese geletterdheid by die NWU het saam met 55 medewerkers, Toegepaste taalkunde in Afrikaans, saamgestel.

Toegepaste taalkunde handel kortweg oor taal se impak op die samelewing en hoe probleme met behulp van taal opgelos word.

Toegepaste taalkunde in Afrikaans bevat verskeie komponente van toegepaste taalkunde wat in verskeie hoofstukke uiteengesit is met Afrikaanse voorbeelde spesifiek vir die praktyk. Dit sluit in dissiplines soos psigolinguistiek, tekslinguistiek en kindertaal, sowel as taal in die onderrig en taal in die samelewing in.

Die boek is toeganklik vir verskeie belangstellendes in die taalkunde – veral aangesien die hele boek nie hoef gekoop te word nie, maar hoofstukke ook aanlyn apart gekoop kan word, wat van toepassing vir die leser is.

Toegepaste taalkunde in Afrikaans is verlede maand in Pretoria amptelik bekendgestel. Prof. Carstens verduidelik met groot opgewondenheid in sy stem oor die belangrikheid van hierdie boek vir Afrikaans.

“Een van die eerste stappe as akademikus is om te kyk waar gapings is en dit dan te vul. Met hierdie boek is daar ‘n nuwe vaktaal en terminologie ook in Afrikaans vir verskeie velde. Saam met my kollega, prof. Tobie van Dyk, en al ons medewerkers, het ons hierdie projek vir die afgelope agt jaar aangepak wat ‘n groot en omvattende proses was,” noem prof. Carstens.

Hy verduidelik dat daar in die verlede meestal Engelse voorbeelde in die verskeie velde was – sodoende is akademiese skryfstukke ook meestal in Engels gepubliseer.

“Daar is massas onderwerpe wat in hierdie boek bespreek word uit verskillende sub-dissiplines. Dit is omvattend geskryf om ‘n hele vakgebied in 20-23 bladsye op te som. Sodoende kan lesers oor ‘n vakgebied lees en ‘n goeie idee kry waaroor dit handel. Dit maak dit baie verbruikersvriendelik en hieruit wek dit dalk meer belangstelling vir verdere navorsing,” meen Prof. Carstens.

Daar is 38 hoofstukke oor verskeie onderwerpe wat genoeg materiaal bied vir lesers om inligting in te win en herhaaldelik gebruik te word – as’t ware ‘n een stop gids tot Afrikaans se impak op verskeie vakgebiede.

“Ons is verskriklik opgewonde oor die voordele wat hierdie boek inhou. Dit was ‘n lang proses veral met die Covid-pandemie so tussenin, maar ek is bly dat hierdie boek nou voltooi is,” stel prof. Carstens.

Toegepaste Taalkunde in Afrikaans is beskikbaar by Van Schaik en Protea beide aanlyn en in druk.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button