Vuur los man in sak en as
Al wat ‘n inwoner van Hillside View oor het nadat sy sinkhuis tot op die grond toe afgebrand het, is die klere aan sy lyf, sowel as ‘n klein Kaizer Chiefs sokkerbal wat aan sy seuntjie behoort.
Al wat ‘n inwoner van Hillside View oor het nadat sy sinkhuis tot op die grond toe afgebrand het, is die klere aan sy lyf, sowel as ‘n klein Kaizer Chiefs sokkerbal wat aan sy seuntjie behoort.

Die res van Thabo Molebatsi (32) se besittings is die afgelope week alles in ‘n vernietigende brand verswelg.
“Ek is lam. Ek weet nie wat om te voel nie. Alles is weg. My ID, my kosbare besittings, kos, klere,” vertel Molebatsi met ‘n stomgeslaande uitdrukking op sy gesig.
Die brand het Maandag, 7 Augustus omstreeks 15:30 uitgebreek toe Molebatsi nie by die huis was nie. Hy was besig om ‘n pyp by ‘n nabygeleë huis te installeer.

“Een van die mans het my kom roep en vertel dat my huis brand. Toe ek hier aankom was dit reeds te laat,” noem hy.
Alles wat in sy huis was is met roet bedek en het uitgebrand. Hier en daar is daar kleiner items wat rondlê, soos ‘n buisie tandepasta, tussen die uitgebrande massa.
Een van die groot probleme van Hillside View is dat water en basiese dienste reeds skaars is, so dit sou moeilik wees om die vuur dadelik te kon blus.
Molebatsi bly ook op ‘n koppie, wat toegang vir motors moeilik maak.
Hy bly vir die afgelope twee aande oor by mense wat hy in die area ken. Hy het ook ‘n vrou, Mami Motaung en twee seuns, Renault (7) en Thabang (5) wat gereeld vir hom kom kuier, maar nie by hom woon nie.
Hy noem ook dat niemand van die munisipaliteit al by hom was om dringende benodighede te gee nie.

Debbie Beukes, genomineerde PA wyksraadslid van wyk 21, het Woensdag, 9 Augustus haar medelye met Molebatsi betoon en ook vir hom komberse, klere en kos wat sy bymekaar kon kry, geneem.
“Dit is my hart om te gee en hierdie man het absoluut niks nie. Dit is verskriklik.
“Ons by die PA doen wat ons kan om mense in die gemeenskap by te staan,” noem sy.
As iemand Molebatsi wil bystaan, kan hulle Debbie by 073 116 1821 kontak.







