Waterlekke steeds kommerwekkend in Paulstraat
Waterlekke aan weerskante van Paulstraat veroorsaak nie net daagliks ‘n vermorsing van water nie, maar skep ook ‘n probleem deurdat dit slaggate in die straat vererger.
Waterlekke aan weerskante van Paulstraat veroorsaak nie net daagliks ‘n vermorsing van water nie, maar skep ook ‘n probleem deurdat dit slaggate in die straat vererger.
Hierdie waterlekke in Miederpark is al vir ‘n hele paar maande ‘n probleem en strek oor sowat 100 meter vanaf die begin van die straat waar dit by Louwstraat kruis. Net voor die waterlek begin, is daar ook reeds talle slaggate in die pad.

Mark Ekron, ‘n inwoner van Paulstraat, noem dat hy al telkemale die waterlek aan die JB Marks munisipaliteit gerapporteer het, maar dat daar geen vordering rakende die herstel hiervan is nie.
“Hierdie week was die munisipaliteit se antwoord aan my dat ek die onderdele moet koop, dan sal hulle dit kom regmaak. “Ek weet nie eers wat ek moet koop nie. Dit kan mos nie so werk nie,” meen Ekron.

“Die water lê ook die hele straat vol en maak dit moeilik vir mense wat hier ry. As dit donker is kan mens nie die slaggate sien nie. Dit is ook ‘n besige pad omdat taxi’s wat gereeld skoolkinders van Potchefstroom Primary vervoer, ook hier ry,” noem Ekron.
Ekron is ook bekommerd dat kinders wat fietsry kan seerkry indien hulle een van die slaggate tref wat deur die waterlek vergroot is.
“Die waterlek het ook al voorheen so hoog soos die huis se dak uitgespuit,” voer hy verder aan.
* Potchefstroom Herald het in April ook berig oor die waterlekke en slaggate, maar tot dusver is daar geen verbetering nie.
* Die Herald het die JB Marks munisipaliteit vir kommentaar oor hierdie probleem genader, maar teen druktyd nog geen terugvoer ontvang nie.



