Onbedekte kanaal hou lewensgevaar in
Die sementblaaie wat gelê is om die kanaal te bedek en die omgewing te beveilig, is reeds jare oud en sal vervang moet word.
Sementblaaie wat die kanaal in Arendstraat bedek, is al vir ses jaar gebreek, en hou ‘n wesenlike gevaar vir inwoners in.
“Daar is geen omheining wat die gebied afsper om inwoners, kinders, en diere uit te hou nie,” sê Jeanne Adriaanse, wyksraadslid van Wyk 24.
Die sementblaaie wat gelê is om die kanaal te dek en die omgewing te beveilig, is reeds jare oud en sal vervang moet word.
“Mens kan sien hoe oud die infrastruktuur is,” sê Adriaanse verder.

Die sementblaaie rus op ‘n smal lys aan weerskante van die kanaal, en is nie stabiel nie. Daar is drie plekke waar die blaaie meegegee het, maar net een plek se blaaie is al vervang.
“‘n Vumatel trok het oor die blaaie gery en dit het meegegee, maar Vutamel het die blaaie vervang,” sê Adriaanse, terwyl sy die nuwe blaaie uitwys.

“Verder het ‘n treklorrie ook blaaie gebreek, en dis net met draad toegespan. Dis nie veilig nie, hier kan nogsteeds kinders en diere inval,” verduidelik sy.
Die derde gat staan steeds oop, sonder ‘n heining of afsperring. Dit is nou al drie weke die geval. Adriaanse noem dat ‘n inwoner oor die blaaie gery het, waarna dit meegegee het.
“Die blaaie is veronderstel om ‘n voertuig te kan dra,” verduidelik Adriaanse en wys dat die kanaal voor huise verbyloop. “Die enigste manier om vanaf jou huis tot in die pad te kom, is oor die kanaal.”
Adriaanse sê dat die probleem reeds aangemeld en deurgestuur is na die onderhoud-afdeling van Waterwese, en dat sy steeds vir terugvoer wag.
*Teen druktyd het die Herald nog nie terugvoer ontvang nie.



