Skilder verstaan die kuns om eg te wees
“Kuns is vir my iets wat net moet gebeur. Dit is vir my ‘n manier om mense aan te raak en iets uit te beeld wat die Here op my hart druk."
Die plaaslike kunstenaar, Elise Erasmus, se diep verhouding met die Here is onlosmaaklik deel van haar kunstalent en onwrikbare passie om te skep. In tye van waar sy die lewe se wisselvallige emosies beleef, is sy die skepper van egte, diep kunswerke wat met mense op verkeie maniere kommunikeer en aan hulle siele raak.
“Kuns is vir my iets wat net moet gebeur. Dit is vir my ‘n manier om mense aan te raak en iets uit te beeld wat die Here op my hart druk. Kuns is my manier om eg aan myself te wees en dit op verskeie kreatiewe wyses uit te beeld,” vertel Elise met ‘n glinster in haar oog.
Mense wat Elise ken sal weet dat sy mal daaroor is om net kreatief te wees en te teken – of dit nou portretstudies is waar sy met fyn detail die unieke karaktertrekke van mense vasvang of net dit geniet om merke op ‘n skoon doek te maak wanneer sy met haar abstraksie-kunswerke besig is.
“Om abstraksies te doen voel amper of ek weer terug in die kleuterskool is. Ek maak merke en teken en eintlik speel ek net rond. Daarna sal ek na die struktuur kyk en iets daarin skep dat dit in ‘n kunswerk vorm. Dit is vir my ‘n baie verrykende ervaring.”
“Dit is ook vir my ‘n voorreg om portretstudies te doen en mense se karaktertrekke vas te vang. Daardie natuurlike uitdrukkings is vir my baie lekker om te skets. Ek geniet dit veral om met houtskool as medium te werk,” vertel Elise, wat ook met water-en olieverf haar talent tentoonstel.
Elise skep kuns met Christelike aanbiddingsmusiek en op hierdie wyse voel sy dat sy ook dan tyd met die Here spandeer en Hy haar kan inspireer. “Daar ontstaan hierdie behoefte in my om kuns net uit te sit en die emosies wat ek beleef vas te vang. Dit is vir my ook belangrik om soveel as moontlik te leer en ook te groei sodat ek as kunstenaar meer kan doen en kan ontdek met my talent,” vertel Elise, terwyl sy glimlag.
Haar eerlikheid en positiewe geaardheid is iets wat nie altyd in die kunswêreld te sien is nie en dit is dalk juis dit, wat haar anders en uniek maak. Na 29 jaar in Potch het haar eerste solo-kunstuitstalling “Letting Go” verlede week by die Snowflake-gebou geopen.
Haar roete in die kunswêreld tot waar sy vandag is kan opgesom word as ‘n onblusbare passie vir leer en haar kunsvaardighede te verskerp en te verbeter. Daarin lê ook die rede waarom sy soms krities oor haar eie werk is.
“Ek het kuns op skool by Hoërskool Die Wilgers in Pretoria geneem, maar ek het na skool besluit om dieetkunde te studeer. In 1994 het ek en my man Potch toe getrek toe ek swanger raak. In Potch het ek kunsklasse by Martie Bothma begin neem. Ek het in 2000 by Barend Grobbelaar begin en was vir 16 jaar een van sy studente by Studio Visio. Hy het my baie geleer en my gemotiveer. Ek doen nou nog klasse by Carl Jeppe in Pretoria, waar ek ook my tekenvaardighede verbeter.”
Sy noem dat sy haar kunswerke ook vir so uur of twee laat rus en dan met nuwe perspektief terugkom wat ‘n voortdurende skeppingsproses is waar inspirasie ‘n bindende faktor is. Haar grootste inspirasies is haar gesin wat haar man, Andries en drie kinders, Annette, Dalene en Lise, insluit. Sy en Andries, wie ‘n mediese dokter is, is al 34 jaar getroud.
“My man is werklik ondersteunend en hy dra skilderye aan en sal my altyd akkommodeer. My dogter, Dalene, het nou weer ‘n besigheidsbrein, terwyl Annette en Lise ook kreatiewe siele is. Almal in my gesin ondersteun mekaar emosioneel wat belangrik is.”
Elise is ingestel op verhoudings bou en tyd saam haar familie, kinders en kleinkinders te spandeer. “Om ma te wees beteken vir my om onuitputbare liefde te gee en net almal te wil beskerm en toevou. Nou dat my kinders uit die huis is bly ek op my knieë en hou aan bid vir hulle. Die kleinkinders is ook ‘n geskenk waar ek my liefde met hul kan deel.”
Om te deel is juis iets wat onlosmaaklik van hierdie kunstenaar, liefdevolle moeder en standvastige vrou is.
“Die grootste geskenk is om dit waarvoor die Here my gemaak het te verstaan, dit te vat en dit met ander te deel. In my kunswerke glo en hoop ek dat mense Hom daarin kan ervaar.”