Local newsNewsNews

Uit Piet se Pen: Die Grootbekke

Hier is nog 'n staaltjie van Piet de Jager oor 'n paar grootpraters se flaters.

Ons het ons daaglikse vergadering verlede week vir een dag na ‘n buurdorp geskuif waar ons gaan onderdele soek het vir ‘n Willys jeep.

Ons, dis nou ek en ander Piet en Hennie, stap die pragtige grasdakplek in en sit, soos vreemdelinge maar gewoonlik in ‘n nuwe plek maak, so effe eenkant.

Die vriendelike kroegdame bedien flink en ons laat die eerste een val waar hy wil.

Ons begin aandag aan die ander besoekers gee. Drie mans in gesprek en een wat lyk soos ‘n afgetrede bankbestuurder.

Die kroegdame sê vir die drie dat Michael die vorige aand daar was en hom nie goed gedra het nie.

Sê een van die drie: “Lyk my hy wil hê ek moet hom weer goed op******* soos nou die aand daar by die Boma. Jy weet ek het hom onder die tafel ingeslaan”

“Ja,” sê nog een van die drie, “Ek het hom verlede week onder by die rivier op sy plek gesit. Arrogante groenteplanter.

Moet hom met ‘n seekatwyfie kruis dan gaan jy iets kry wat wragtig gaan groente plant dat dit bars.”

Die derde man laat nie op hom wag nie en sê dat Michael ook al onder sy vuiste deurgeloop het en glo vir ‘n paar dae uit die openbare oog gebly het om te herstel.

“Laat hy dit net waag om sy pote hier te sit dan neuk ek hom persoonlik by die hek uit” So gaan hulle aan om mekaar op te sweep oor wat hulle als met die man gaan doen.

Die bankbestuurder sit maar net en luister, soos ons ook maar maak. “Onder die tafel in, daar by die Boma, sê ek vir julle” “Vier dae by die huis” “By die hek uit tot in die straat”

In ‘n kuierplek sit almal mos so met hulle agterkante na die deur se kant toe. Skielik hoor ek die kroegdame trek haar asem benoud in en sy fluister: “Hier kom Michael”

Ons kyk waar die kortse pad deur toe is want hier gaan mos nou ‘n ‘barfaait’ soos min wees en ons wil nie deel daarvan wees nie. “Hallo Boys, lekker om julle te sien.”

Sê die drie grootbekke omtrent soos ‘n laerskool spreekkoor: “Hallo ou Mike. Baie welkom” “Wat drink jy? Gooi vir hom, dis op ons”

Oppad huistoe is ons half spyt oor die ‘faait’ wat toe nie was nie. Hennie sê “Onder die tafel in.”

Ander Piet sê “Vier dae by die huis” en ek sê: “By die hek uit tot in die straat.”

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button