Gimmies en Volkies plant nog bome om Eikelaning te red
Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom het op Lentedag (Vrydag, 1 September) hande gevat om as deel van die Potchefstroom Sakekamer se Borg ‘n Boom-projek die Eikelaning ryker te maak.
Potchefstroom Gimnasium en Hoër Volkskool Potchefstroom het op Lentedag (Vrydag, 1 September) hande gevat om as deel van die Potchefstroom Sakekamer se Borg ‘n Boom-projek die Eikelaning ryker te maak. Die eerste Borg ‘n Boom-projek het in 2022 afgeskop en groei jaarliks van krag-tot-krag.

“Die bekende eikelaan is deel van Potchefstroom se ryk geskiedenis en staan as ‘n baken van eenheid, samewerking en groei. Dit koester dekades se herinneringe en simboliseer ‘n gemeenskap wat saam staan vir ‘n beter toekoms,” sê Juanita Smit, voorsitter van die Potchefstroom Sakekamer. Die Sakekamer is passievol oor projekte wat ‘n verskil in die gemeenskap maak en daarom is die Borg ‘n Boom-projek só na aan hulle hart.
Die doel van die projek is om ‘n Eikelaan-Geesbaan te skep om skole en die gemeenskap tydens die immergewilde Gimmie-Volkie Derby bymekaar te bring, samewerking aan te moedig, en fondse vir die onderskeie skole en die Historiese Eikelaanbelangegroep in te samel.
Besighede en die gemeenskap word aangemoedig om ‘n eikeboom te borg sodat dit volgens die betrokke skool se korporatiewe kleure opgemaak kan word. Die Eikelaning word dan vanaf Gimmies tot Volkies versier waar hulle nie net simbolies nie, maar ook fisies in die middel hande vat om sportmangees en samewerking uit te beeld.

In 2022 het die projek gesorg vir meer as 200 geborgde bome en R22 000 wat aan die Historiese Eikelaanbelangegroep oorhandig was. ‘n Totaal van 10 eikebome was ook tydens die Nasionale Boomplantweek deur die belangegroepe geplant.
Vanjaar se Borg ‘n Boom-projek het op die 3de Mei afgeskop en geduur tot die 20ste Mei. ‘n Totaal van R 40 400 is op 1 September aan die Historiese Eikelaanbelangegroep oorhandig, waarna almal teenwoordig die Lente-seisoenop die regte noot afgeskop het, deur saam vier Eikebome te plant. Die Historiese Eikelaanbelangegroep sal ook deurgaans die jaar van die fondse gebruik om die eikebome te versorg, beskerm en aan te plant.

Taryn Tromp, Leanel Brooks, Christoff Nel, en Dewald Groenewald het die Volkieraad verteenwoordig. Gimmieraad se Johan Kotze, Kyra Le Roux, en PC Schutte (hoofseun) het die oorhandiging bygewoon. Hersie Van Wyk, ‘n Gimmie-verteenwoordiger, het die Gimmieraad ondersteun tydens die oorhandiging.
Joël Lebepe versorg die Eikebome deur hul water te gee en seker te maak dat die grond nie kompakteer en hul groei belemmer nie. Hy het gehelp om die bome te plant.
Johan Naude het Cachet Park CID NPC verteenwoordig. Juanita Smit, voorsitter van die Potchefstroom Sakekamer was teenwoordig, asook Thomas Muswede, hoof van JB Marks Munisipaliteit se Parkeraad.
Die Eikelaning is baie spesiaal vir Muswede, aangesien dit die langste Eikelaning in die Suidelike halfrond is. Dit is een van die vele redes waarom die betrokke belangegroepe saam staan om die Eikelaning te beskerm.
“Die Eikebome verteenwoordig sterkte, stabiliteit en deursettingsvermoë en die akkers verteenwoordig ‘n nuwe begin. Dit is waarvoor die inwoners in Potchefstroom ook staan” sê Jansen van Rensburg.



