Local newsNewsNews

Voëlkyker se liefde vir geveerde vriende sweef voort

Voëls se unieke eienskappe verstom die plaaslike voëlkyker, Prof. Johan Nel, daagliks. Hy het al 810 spesies in sy leeftyd waargeneem.

Voëls in al hulle kleurryke en unieke glorie veroorsaak ‘n gevoel van liefde in die hart van die plaaslike voëlkyker, prof. Johan Nel.

Vir hierdie afgetrede dosent en voormalige hoof van die Sentrum vir Omgewingsbestuur aan die NWU, is voëlkyk ‘n passie wat hom daagliks laat glimlag.

Prof. Johan Nel is op sy gelukkigste wanneer hy voëls gewaar en verskillende spesies kan beleef.

Dit maak nie saak of dit van die voëls is wat in sy tuin sing, tot meer eksotiese voëls in ver afgeleë gebiede wat ‘n hele ekspedisie benodig nie.

Nel, ‘n lid van die plaaslike Birdlife Wesvaal-voëlklub, het alreeds in sy leeftyd 810 voëlspesies gesien met elkeen wat ‘n spesiale plek in sy hart het.

“Ek is trots om daardie 800 kerf te kon bereik, want dit is iets wat baie nie regkry nie. 700 is alreeds vir baie voëlkykers ‘n magiese getal. Vir my het voëlkyk ‘n liefdeskomponent. Voëls is vir my kwesbaar, maar ook so divers met ontsettende deursettingsvermoë,” noem Johan.

Die Rooipensmees is ‘n baie gesogte voël wat in die Caprivi, Namibië voorkom. Foto: Johan Nel
Die Oostelike Saadbrekertjie is ‘n skaars en pragtige voël wat in Mosambiek voorkom. Foto: Johan Nel.

Hy het nie altyd weens sy werk en besige skedule tyd gehad om voëls te kyk nie, maar sedert hy afgetree het kon hy meer breedvoerig aan hierdie passie van hom aandag gee.

Dit behels om baie meer te reis en verskeie ekspedisies te beplan om rare voëlspesies te kan waarneem. Die buitelewe en die natuur was nog altyd ‘n groot vreugde vir Johan en nou neem hy dit verder met hierdie passie vir geveerde vriende.

 “Ek gaan juis middel Februarie terug Zimbabwe toe om voëls te gaan kyk. Daar is sekere spesies wat net op sekere areas voorkom. Om maritieme voëls te sien moet voëlkykers byvoorbeeld per boot reis, wat ook ‘n baie lekker ervaring is,” verduidelik hy.

Deesdae hoef voëlkykers nie net van ‘n voël identifiseringsboek gebruik te maak nie, aangesien alles digitaal beskikbaar is op ‘n mens se foon.

Prof. Johan Nel is op sy gelukkigste wanneer hy voëls gewaar en verskillende spesies kan beleef.

“Daar is baie goeie toeps vir voëlkykers beskikbaar. BirdLasser is ‘n toep waar voëlkykers die voëls wat hulle waarneem kan aanteken en ook presiese GPS koördinate kan weergee van waar hulle ‘n spesifieke spesie waargeneem het. Sodoende help voëlkykers mekaar en kan ook bydra tot meer inligting oor voëls. Breedweg kan voëlkykers ‘n rol as burgerlike wetenskaplikes speel,” noem Johan.

Ander toeps wat ook handig te pas kom is Firefinch sowel as Birdpro, wat ‘n ellelange lys van voëls in sy databasis bevat, met kleurvolle prente en illustrasies wat spesifieke uniekhede van elke voël sowel as hul klanke uitwys.

“’n Voël se roep is een van die belangrikste elemente van voël kyk, omdat ‘n mens die meeste van die tyd ‘n voël eers hoor en dan sien. Om voëlklanke te kan herken, help baie om te weet of jy naby ‘n spesifieke spesie is. Daar is ook baie kursusse wat beginner voëlkykers kan bywoon om meer inligting te bekom,” meen hy.

Die beste manier vir beginners om hul passie vir voëlkyk te begin is om in die gemak van jou eie tuin voëls te dokumenteer.

“Dit is nie nodig om voëls af te neem wat jy waarneem nie, maar dit maak die ervaring baie beter, veral as dit skaars voëlspesies is. Partykeer kry ‘n mens net een geleentheid om ‘n voel vas te vang,” meen Johan.

‘n Goeie verkyker en “spotting scope” sal ook handig te pas kom.

Die Afrika Pitta

Op Johan se lys van besondere voëls is die African Pitta/Angolapitta wat in die laer Zambezivallei in Zimbabwe en Mosambiek voorkom, nommer een. Die Oostelike Saadbrekertjie is nog ‘n voorbeeld van ‘n skaars spesie wat in die sentrale dele van Mosambiek sowel as in die Hondevallei aan die oostekant van Zimbabwe voorkom.

Volgens Johan is die Rooiborsvleikuiken een van die gesogste voëls wat in Potchefstroom voorkom. Plekke waar Potchefstromers voëls kan bekyk strek oor ‘n 100 km radius met die geleentheid om ongeveer 380 voëlspesies te kan sien.

Areas vir voëlkyk:

  • Vredefortkoepel en Vaalrivierstelsel
  • die OPM Prozesky-voëlreservaat
  • die Eleazerpad
  • Faan Meintjies Munisipale Natuurreservaat
  • Inyala Lodge area
  • Boskopdam Provinsiale Natuurreservaat.

Om voëlkyk na die volgende vlak te neem stel Johan voor dat voëlkykers saam met ‘n gids na spesifieke areas reis om rare voëlspesies waar te neem.

“Ons sal byvoorbeeld vir 3-4 dae by ‘n spesifieke area bly om voëls te kan waarneem. Dit is ‘n ervaring en ‘n mens leer baie saam met mede voëlkykers wat ook jou passie deel.”

Voëls se unieke eienskappe verstom hierdie voëlkyker daagliks. Volgens Johan is die konneksie wat hy met die omgewing het iets besonders wat verder in sy belangstelling in veral voëls strek.

“Baie voëls het ook streekvariasies en hul eie dialekte. Dan het voëls hul gewone kleed sowel as ‘n broeikleed. Daar is soveel unieke verskille en dit verstom ‘n mens. Om dan boonop nuwe spesies te kan waarneem is net magic.”

Diegene wat meer oor voëlkyk wil weet kan die Birdlife Wesvaal voorsitter, Pieter Labuschagne by 082 908 7965 kontak.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button