CommunityLocal newsNewsNewsRegional News

Hoërskool Ferdinand Postma leerder behaal topposisie by ATKV Spellathon

Elrise Pretorius, 'n talentvolle leerder van Hoërskool Ferdinand Postma, het die eerste plek by die ATKV Spellathon verower.

Elrise Pretorius, ‘n talentvolle leerder van Hoërskool Ferdinand Postma, het onlangs die eerste plek behaal by die ATKV Spellathon en haar naam in die boek van Suid-Afrikaanse taal helde ingeskryf. Na ‘n indrukwekkende tweede plek in die junior afdeling van die Sentraal Spel Fiesta, het Elrise besluit om haar vaardighede in die senior-kategorie te toets.

“Na my prestasie laasjaar wou ek myself uitdaag om nog beter te doen. Ek het ‘n groot passie vir Afrikaans ontwikkel en was nuuskierig oor die taal se finesses,” het Elrise gesê.

Haar voorbereiding was intensief. “Ek het elke dag ten minste ‘n uur spandeer om my woorde te leer en my woordeskat te vergroot. Baie van die woorde was onbekend vir my, so ek moes dit op ‘n interessante manier leer,” het sy bygevoeg.

Die grootste uitdaging vir Elrise was die stres wat met die kompetisie gepaardgaan. “My pa het baie ure saam met my gewerk om my te help. Net voor ek my plek moes inneem, het hy my vier wenke gegee: ‘Luister mooi, praat stadig, vra vir ‘n verklarende sin en definisie as jy onseker is, en wees net rustig.’ Ek het dit regdeur die rondtes onthou,” het sy verduidelik.

Toe sy die nuus ontvang dat sy eerste plek behaal het, was dit ‘n oorweldigende oomblik. “Dit het ‘n rukkie gevat om te besef wat ek bereik het, maar ek was verskriklik gelukkig. Ek was ook trots om dit vir myself en my skool te doen, aangesien baie onderwysers en vriende my ondersteun het.”

Haar ma, Hetta Pretorius, was ook trots op haar dogter se prestasie. “Ek is so trots op Elrise. Haar toewyding en harde werk het vrugte afgewerp. Sy het nie net vir haarself nie, maar ook vir ons skool en die gemeenskap gewys wat moontlik is met deursettingsvermoë,” het sy gesê.

Elrise het ook raad vir ander jong deelnemers: “Wees net rustig en glo in jouself. Sodra jy begin twyfel, kan die maklikste woorde moeilik raak. As jy hard oefen en jou beste gee, sal jy sukses behaal.”

Met haar oë op die toekoms, het Elrise duidelike doelwitte. “Ek wil beslis die titel weer verwerf en my passie vir Afrikaans verder ontwikkel. Ek is opgewonde oor wat die volgende jaar inhou.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Jade Sateria

I am Jade Sateria, a seasoned journalist with expertise in investigative reporting, feature writing, and multimedia storytelling. My skills include in-depth research, compelling narrative creation, and data analysis. I have 6 years of experience in journalism, social media marketing and developing communications paradigm.

Related Articles

Back to top button