Riool hou gesin in huis gehok
Die gesin van Nieuwe straat moet hulle outistiese seun in die huis probeer hou.
‘n Gesin in Nieuwe straat is die laaste week forseer om hulle gestremde seun in die huis te hou.
Dit weens ‘n Riool lek wat sedert Saterdag in hulle erf inspoel.
Volgens Ingrid Esterhuizen, eienaar van die huis is daar ‘n blokkasie by hulle bure wat dan in hulle erf in loop.
“Ons sukkel al jare, die munisipaliteit gee net nie om nie. Ons het ‘n gestremde seun wat ons in die huis moet toesluit, hy het laas amper sy heup gebreek in die gemors. Hy verstaan nie hoekom hy nie mag uit nie en kry angs aanvalle dan slaan hy homself en stamp sy kop reen die muur,” het Esterhuizen verduidelik.
Volgens haar moet hulle vir die seun medikasie gee dat hy nie so angstig word nie.
“Die stank is iets vreesliks. As dit reën is dit nog erger. Dit vat dae voor dit verdwyn en soms lê die erf dan vol toiletpapier en groen goed. Geen mens kan lewe met die stank nie. Ons moes ‘n gat in ons betinmuur maak sodat dit kan uitloop,” het sy gesê.
Die Herald het die munisipaliteit om kommentaar genader, maar ten tyde van publikasie was daar nog geen reaksie nie.



