Strafbare manslag-saak teen Potchefstromer uitgestel
Meer inligting oor die 2019-ongeluk waarin Kobus Huyser (28) en Neil Grobler (19) gesterf het is tydens die hofverigtinge aangevra.
Die saak teen ‘n Potchefstroomse man wat twee klagtes van strafbare manslag in diegesig staar is tot 4 Augustus uitgestel.
Dit nadat sy regsverteenwoordiger meer inligting rondom die ondersoek aangevra het. Gideon Borstlap het kort na die ongeluk in 2019 in die hof verskyn, maar in 2020 is die saak van die rol verwyder.
Kobus Huyser (28) en Neil Grobler (19) is in die ongeluk wat 15 Augustus 2019 in Govan Mbeki-rylaan naby die gholfbaan in Potchefstroom plaasgevind het oorlede.
Volgens Kolonel Adele Myburgh, provinsiale polisie woordvoerder, is Borstlap in hegtenis geneem en om borgtog vry gelaat.
“Die vervolgingsspan het gevoel daar is nie ‘n onafhanklike ooggetuie wat die saak suksesvol verder sou neem nie. Die saak is toe van die hofrol verwyder. Die polisie het daarna in die plaaslike media gevra dat oogetuies vorendag moet kom. ‘n Nuwe ooggetuie het vorendag gekom wat bereid was om ‘n verklaring af te lê. Die dossier is na die DOV gestuur wat besluit het om die saak weer op die rol te plaas.
Volgens Michelle Erwee, Borstlap se regsverteenwoordiger, is daar voor die verwydering van die saak van die rol het die verdediging sekere inligting aangevra, maar na die saak teruggetrek was, is die vrae uit die aard van die saak nie geantwoord nie.
“Verdere ondersoek deur die polisie het daarna plaasgevind, maar nadat die verdediging die inhoud van die dossier nagegaan het, het ons opgelet dat die verdediging se vrae steeds nie beantwoord is nie. Die saak is uitgestel vir die verdediging om skriftelik aansoek te doen vir verdere besonderhede en vir die Staat om daarop te antwoord,” het sy gesê.
Lees die vorige artikel hier:
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/news/2025/05/12/na-vyf-jaar-is-saak-weer-op-die-rol/



