Pad na sinkgatherstel ‘n gemors
Die veiligheid van studente en motors is nou in gevaar.
Die pad in Eleazerstraat waar ‘n reuse sinkgat onlangs herstel is, is nou ‘n seeroog vir inwoners en studente.
Chantelle van der Merwe van Varsity Village, sê alhoewel dit ‘n verligting is dat die sinkgat herstel is, hou die pad steeds ‘n gevaar in.
“Die sypaadjie en die pad is na die herstel net so gelos. Dit is baie gevaarlik vir motors om daar te ry en studente wat loop, val in die nag oor die klippe. Van die groot klippe het al in ons bus se agterwiele gaan vassit. Omdat die pad so swak is, skud ‘n mens se kar verskriklik. Ons een bus se lig het al uitgeval.”
Volgens Chantelle bly daar sowat 450 tot 500 studente in die omgewing.
“Ons het al verskeie kere die munisipaliteit gekontak. Daar was ‘n besproeiingsisteem op die sypaadjie waarvan daar ook nou niks meer oor is nie. Die waterlekke weens die herstel van die sinkgat, word ook niks aan gedoen nie.”
Die munisipaliteit was glo vroeg op 12 Junie, op die perseel om na ‘n waterlek te kyk, maar het gery om gereedskap te gaan haal en nie weer teruggekom nie.
Navraag is deur die Herald by die plaaslike munisipaliteit gedoen, maar wag steeds op terugvoer.
Kyk na die fotos hier:








