Familie eis antwoorde ná dood by Witrand
’n Pasiënt van Witrand is onlangs oorlede, die man se suster deel die hartseer verhaal oor sy laaste dae. Die polisie se ondersoek duur voort.
Die polisie ondersoek klagtes van aanranding en verkragting na die dood van ‘n pasiënt van die Witrand Psigiatriese Hospitaal.
Volgens provinsiale woordvoerder Brigadier Sabata Mokgwabone, kan nog klagtes ondersoek word na afloop van die nadoodse ondersoek.
Die LUR vir gesondheid in die Noordwes, Sello Lehari, het op 21 Junie met ‘n afvaardiging die hospitaal besoek.
“As ‘n departement neem ons hierdie bewerings met die uiterste erns op. Die veiligheid en waardigheid van pasiënte in ons sorg is ononderhandelbaar. Terwyl ons wag op die uitslag van die polisie-ondersoek, doen ons ons eie interne ondersoek om te verseker dat die feite vasgestel word en dat enige nodige stappe vinnig en verantwoordelik geneem word,” het Lehari gesê.
Volgens die oorledene se suster, Colette du Plessis, het sy op 1 Junie met haar boetie, Quinton, gepraat.
“Hy het baie gehuil en aanhoudend gesê hulle maak hom seer en dat ek hom moet kom haal. Ek het met ‘n verpleegster gepraat wat my na ‘n dokter toe verwys het. Hulle het vir my gesê daar is ‘n wond op sy gesig wat as ‘n klein tipe van pitsweer begin het, maar omdat hy dit aanhou krap het dit ontsteek en ‘n abses begin vorm,” vertel sy.
Met Colette se besoek op 5 Junie het sy gesien daar is merke op sy voorkop. By navraag het die personeel vir haar verduidelik dat hy homself op die vloer neergegooi het, glo omdat hy sy gesig in die spieël gesien en dit hom geskok het.

“Hy kon nie mooi praat of behoorlik sluk nie, sy vel was yskoud, sy hare was klam en sy naels was baie lank gewees. Die personeel het vir my gesê, daar is nie naelknippers beskikbaar nie. Ek wou hom graag saam met my vat, maar die dokter het gesê dat die wond aan sy gesig twee keer ‘n dag skoongemaak moet word. So, hy moet daar bly. Ek het haar vertrou want sy is ‘n dokter, sy weet van beter. Ek verwyt myself dat ek hom nie daardie dag saam my gevat het nie. Ek is so jammer,” het ‘n emosionele Colette vertel.
Op 9 Junie het Colette ‘n oproep ontvang dat die Witrand personeel vir Quinton bewusteloos langs sy bed gevind het. Hy is na ‘n ander saal geskuif waar hy versorg moes word. Daardie selfde aand is Quinton per ambulans na die Potchefstroom-hospitaal geneem. Nadat Quinton na Potch-hospitaal oorgeplaas is, het Colette verskeie toetse aangevra. Sy het ook aangedring op ‘n verkragtingstoetsstel.
“Die dokter by Potch-hospitaal het my laat weet dat ek so gou as moontlik moet deurkom. Toe ons op 11 Junie daar kom was my boetie in ‘n koma. Sy hele lyf was vol bloukolle, ‘n groot wond aan die agterkant van sy kop, en sy skedel het gevoel of dit ingeduik is,” het Colette vertel.
‘n Dag later het Quinton geringe verbetering begin wys, maar kort na die dokters sy suster laat weet het dinge gaan bietjie beter, het Colette die oproep ontvang dat Quinton se hart gaan staan het.
“Ons was alreeds op pad toe ons weer ‘n oproep kry dat hulle al vir 23 minute probeer om hom by te bring, maar dat hulle nou gaan ophou. Die vrae hou my wakker in die aande, waar was hulle toe my boetie geskree het en toe hy verkrag is? Hy was nie in so toestand toe hy in 2014 daar opgeneem is nie. Hy was maatjies met almal en het almal vertrou,” het Colette gesê.
‘Die Departement van Gesondheid spreek sy diepste kommer oor die saak uit en verseker die publiek dat die nodige stappe geneem sal word wat op die bevindinge van beide interne en eksterne ondersoeke gebaseer is,” het die provinsiale departement in ‘n verklaring gesê.



