Drie mans is in die vroeë oggendure van 3 Julie in hegtenis geneem nadat polisiebeamptes in Ventersdorp ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in hulle besit gevind het.
Volgens Kaptein Mpho Manyoba, polisie woordvoerder, was die beamptes op patrollie in Ventersdorp toe hulle ‘n verdagte voertuig voorgekeer het.
“Kort nadat die voertuig gestop het, het twee mans uit die voertuig gespring en begin vlug. Die voertuig is deursoek waarna twee pistole en ‘n nog ‘n geweer gevind is. Die geweer se reeksnommer is uitgekrap. Daar is ook 18 rondtes se ammunisie gevind,” verduidelik Manyoba.

Die drie verdagtes, wat onderskeidelik 27, 40 en 45 jaar oud is, is dadelik in hegtenis geneem. Aanvanklike ondersoeke het gewys dat die vuurwapens aan sake in Soshanguve en Diesplsoot gekoppel kan word. Verdere ondersoek het ook bevestig dat die verdagtes by ‘n rooftog in Kuruman wat op 2 Julie plaasgevind het verbind kan word.
Waarnemende provinsiale kommissaris, Majoor Generaal Patrick Asaneng het lede van Ventersdorp vir hulle paraatheid geprys.
“Almal wat misdadigers help en aanmoedig, herberg gee of saamsweer, ongeag hul nasionaliteit, sal die volle toorn van die wet in die gesig staar,” het Asaneng verduidelik.



