Potchefstroom Animal Welfare Society (PAWS) is nou onder nuwe bestuur nadat Darren Kruger, voormalige voorsitter, op 23 Mei uitgetree het.
Darren het aan die Herald bevestig alhoewel hy uitgetree het, hy altyd by PAWS betrokke sal wees.
In ‘n plasing op sosiale media, het Darren oor sy besluit gepraat.
“Na 19 jaar van diens in dierewelsyn, het ek die besluit geneem om as voorsitter van PAWS se komitee uit te tree op 23 Mei 2025. My reis het in 2006 begin by die DBV in Potchefstroom, waar ek my liefde vir diere en hul beskerming ontdek het. Ek het ook vir 5 jaar as Streeksvoorsitter van die DBV gedien, waar ek waardevolle ervaring opgedoen het en kon help om groter impak te maak.”
Hy gaan voort om te vertel hoe hy PAWS begin het.
“In 2015 het ek saam met ander die voorreg gehad om PAWS te stig, ‘n Organisasie wat baie na aan my hart lê. Dierewelsyn is nie net ‘n roeping nie, dit was en bly my passie. Ek is trots op wat ons oor die jare saam bereik het, en dankbaar vir elke vrywilliger, ondersteuner en komiteelid wat saam met my die pad gestap het. Al tree ek nou terug, sal PAWS altyd deel van my bly. Baie sterkte aan die nuwe bestuur en komitee, ek weet julle harte is op die regte plek! Dankie vir die ongelooflike voorreg om vir soveel jare diensbaar te kon wees.”
Annelize van der Westhuizen, wat al lank by PAWS betrokke is, is as die nuwe voorsitter aangewys. Cecilia Marias is as ondervoorsitter aangewys en Vee Erasmus, Willem van der Westhuizen, Abel Erasmus en Gawie Janse van Rensburg is as komittee-lede aangewys.
“Ons is nog nuut in hierdie dinge, so ons neem dit dag vir dag. Die belangrikste is die welstand van die diere,” het Annelize gesê.
Annelize will ook van die geleentheid gebruik maak om almal te herinner aan hulle Mandeladag wat Vrydag, 18 Julie plaasvind.




