Polisie bewus van gewapende roof video
'n Aansienlike bedrag geld is Donderdag tydens 'n gewapende roof gesteel.
Die Suid-Afrikaanse Polisie in die Noordwes is bewus van ‘n video wat op sosiale mediaplatforms die rondte doen rakende ‘n gewapende rooftog wat Donderdagmiddag, 21 Augustus by die kruising van Brayweg en Eenheid 13 plaasgevind het.
Kolonel Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, sê twee mans kan in die video gesien word hoe hulle die insittendes van ‘n wit Toyota Fortuner met ‘n vuurwapen dreig en beroof.
“’n Aansienlike bedrag kontant is tydens die rooftog gesteel. ‘n Saak is geopen en ‘n ondersoek na die saak is aan die gang.”
Die waarnemende provinsiale polisiekommissaris in Noordwes, generaal-majoor Patrick Asaneng, sê die feit dat hierdie voorval in die openbaar, helder oordag, plaasgevind het en dat dit opgeneem en op sosiale media versprei is, dui daarop dat daar getuies is met inligting wat kan lei tot die identifisering en inhegtenisneming van die verdagtes.
“Dit is duidelik dat dit ‘n goed beplande en nie lukrake rooftog was nie, aangesien die verdagtes geweet het waarna hulle gesoek het, naamlik die geld wat die slagoffer gehad het. Die versoek en boodskap aan diegene wat gesien het wat gebeur het of die oortreders moontlik kan identifiseer, is om asseblief die polisie te help en nie toe te laat dat hierdie gevaarlike skurke aan inhegtenisneming ontsnap nie.”
Die polisie vra enigiemand wat inligting het wat met die ondersoek kan help om luitenant-kolonel Ompolokile Letebele te skakel by selfoon: 082 416 3749 of d/sersant Pitso Kgetsana by selfoon: 079 897 1858. Die SAPS Misdaadstop-nommer: 08600 10111, kan ook gebel word. Anonieme wenke kan via die MySAPS-toep gedeel word.



