Local newsNewsNews

Wonderwerk dogtertjie oorleef erge fratsongeluk

Die ouers van Jana Steyn getuig van ’n wonderwerk ná ’n fratsongeluk. Potchefstroom-gemeenskap bid vir haar herstel.

Die Potchefstroom-gemeenskap bid saam vir die herstel van die 17 maande oue, Jana Steyn, wat tans in die intensiewesorgeenheid ná ’n fratsongeluk aansterk. Haar ma, Kelly Steyn, het die verhaal gedeel en beskryf dit as ’n groot wonderwerk dat haar dogtertjie nog leef.

Volgens Kelly het die ongeluk op 26 Augustus, plaasgevind toe Jana saam met haar pa en boetie wou ry.

“My man en seuntjie het vir my en Jana gegroet met soene en drukkies en hulle was in die bakkie op pad om te ry, terwyl my dogtertjie huil sy wou graag saam haar pappa en boetie beeste toe gaan. Ek het vir haar gesê ons gaan skool toe sy moet saam my kom om gou diertjies kos te gee, ek het omgedraai om my skoene by die huis se deur te kry toe sy besluit om so vinnig as moontlik te hardloop om haar pa te probeer stop. Sy beland toe onder die bakkie en my man is oor haar, hy het nie geweet sy is naby nie want sy is mos by my… dit was ‘n kwessie van 4 sekondes,” het Steyn van daardie dag vertel.

“Ek kan nie beskryf hoe dit gevoel het om daai prentjie van my kind se gesig te sien nie. Dit was die ergste oomblik van my lewe,” vertel sy.

Die gesin het onmiddellik hospitaal toe gejaag terwyl hulle aanhoudend gebid het. “Die Here se hand van beskerming het oor haar gerus. Sy het asemgehaal en sy het geleef  dit alleen is ’n wonderwerk,” sê Steyn.

Kelly Steyn saam met dokters by die hospitaal waar Jana aansterk.

’n Ambulans het die gesin naby Ventersdorp gekry en Jana oorgeneem. Haar pa het intussen langs die pad neergekniel en vir sy dogtertjie se lewe gebid.

Jana is eers by Mediclinic Potchefstroom behandel en later na ’n hospitaal in Midrand oorgeplaas. Sy het ure in teater deurgebring waar haar skedel en ernstige gesigswonde behandel is. Volgens dokters het sy op ’n merkwaardige manier oorleef geen bene is gebreek nie, ondanks die feit dat die bakkie oor haar is.

“Die dokters kan dit nie glo nie. Al haar toetse wys goed. Ons glo sy gaan volkome herstel,” verduidelik Steyn.

Die familie sê hulle is oorweldig deur gebede, ondersteuning en hulp van familie, vriende en die breër gemeenskap. Hulle het ook hul dank uitgespreek teenoor die mediese span wat vinnig opgetree het.

“Ons voel hoe die aarde letterlik gons van gebede vir Jana. Dankie Here vir mense wat saam intree en bid sonder ophou,” het sy gesê.

Hoewel Jana se herstelpad nog lank gaan wees, glo haar ouers dat sy ’n lewende getuienis van God se beskermende hand is. “God het sy voet neergesit en gesê die vyand het nie reg om Jana se lewe te neem nie,” het sy verduidelik.

Die feit dat Jana oorleef is volgens dokters ‘n wonderwerk.

Die familie het ook aangedui dat sommige van Jana se behandeling nie deur hul mediese fonds gedek word nie en dat vriende en gemeenskapslede ’n fondsinsameling begin het om te help.

Mense wat kan help, kan by die back a Buddy ‘n bydrae lewer.

https://www.backabuddy.co.za/campaign/liefste-jana-steyn

“Ons waardeer elke bydrae, maak nie saak hoe klein nie. Die Here sal julle dubbel terug seën,” sluit Kelly af.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Dustin Wetdewich

I have been a journalist with the herald since 2014. In this time I have won numerous writing awards. I have branched out to sport reporting recently and enjoy the new challenge. In 2019 I was promoted to Editor of the Herald which brings another set of challenges. I am comitted to being the best version of myself.

Related Articles

Back to top button