Herald se redakteur sluit ’n dekade van stories en diens af
Ná 11 jaar by die Herald, waarvan ses as redakteur, neem Dustin Wetdewich afskeid van Potchefstroom se gemeenskap.
Aan die einde van die week, gebeur twee dinge, ek vier my 40ste verjaarsdag en my tyd by die Potchefstroom Herald is verby.
Na 11 jaar by die Herald waarvan ses jaar as redakteur, het ek ‘n nuwe uitdaging aanvaar. Daar was beslis meer hoogtepunte as laagtepunte in die laaste dekade wat ek in Potchefstroom spandeer het. Die stories wat ek vertel het en onder my leiding vertel is, hoop ek het die gemeenskap ingelig gehou.
Ek het altyd probeer om regverdig, akkuraat en sensitief te wees in ons verslaggewing. Ek besef daar is altyd mense wat nie gaan hou van wat ons skryf nie, en as ek foute gemaak het, hoe klein ookal dan vra ek die gemeenskap om verskoning.
Ek moet al die inwoners van Potchefstroom bedank, dankie dat julle my vertrou het die laaste 11 jaar om julle stories te vertel, om deel te word van julle gemeenskap en vir al die ondersteuning wat ons altyd by inwoners gekry het. Ek sal ook graag my kollegas wil bedank, nie net die joernaliste, saam wie ek oor die jare gewerk het nie, maar ook elke woordvoerder en bemarker saam wie ek ‘n pad kon stap. Julle sit soms aan die ander kant van die heining maar ek is trots dat ons nog altyd goeie bande gehad het.
Die Potchefstroom Herald is vanjaar 117 jaar oud, ek is maar die 13de redakteur in die koerant se geskiedenis. Ek het verskeie burgemeesters en skoolhoofde sien kom en gaan, self oor ‘n paar van hulle geskryf. Ek het gedeel in die lief en leed van inwoners, in hulle voorkamers gesit om hulle stories met deernis te probeer vertel.
Ek moes die moeilike oorgang van ‘n betaalde koerant na gratis koerant deursien, en selfs met ‘n pandemie wat ons almal in ons huise toe gehou het, reken. Die wêreld het verander, so moes die Herald saam verander. Alhoewel dit nie meer dieselfde is nie, sal die Herald voortduur.
Dit was nie ‘n maklike besluit gewees nie, omdat ek so deel van die gemeenskap geword het. Ek glo tog dit was die regte besluit vir my.
In die kort termyn kan enige navrae aan Tania Coetzee gerig word, tot ‘n plaasveravanger gevind is, sal sy dinge uit ‘n redaksie oogpunt hanteer. Sy kan by 074 018 4885 of tania@mooivaal.co.za gekontak word.



