Local newsNewsNews

Uitsonderlike kunswerke kry nuwe tuistes

"Met hierdie uitstalling kry jy die geleentheid om kunswerke vry te laat sodat dit nuwe huise en nuwe harte kan vind.”

Die Re-Love kunsuitstalling wat op 20 Januarie by die Snowflake Venue geopen het, is ietwat ongewoon omdat kunsversamelaars vir ‘n slag genooi word om hul werke uit te stal. Diegene wat nie noodwendig self kuns skep nie, kry hier die geleentheid om daardie werke waarvoor hulle nie meer plek het nie, weer ‘n kans te gee om herontdek te word.

“Dit help nie om sentimenteel jaloers vas te hou aan kunswerke waarvoor jy nie meer plek het nie. Jy bêre dit onder jou bed of in ‘n kas waar dit stof opgaar en niemand dit kan waardeer nie. Met hierdie uitstalling kry jy die geleentheid om kunswerke vry te laat sodat dit nuwe huise en nuwe harte kan vind” – Martie Bothma, kurator van die galery by die Snowflake Venue.

Dit is die derde keer dat die Potchefstroom Kunsvereniging dié uitstalling aanbied en volgens Martie het hulle ‘n besondere goeie versameling kunswerke ontvang. Sy sê dit is die ideale geleentheid vir kunsliefhebbers om werke aan te koop aangesien kwaliteit kuns teen baie goeie pryse hier aangebied word. “Ons het ‘n paar harte baie blygemaak,” sê sy ingenome tydens die openingsgeleentheid.

Bekende kunstenaars soos Wendy Malan, Frans Claerhout, Andrew Verster, Jan van Bergen, Mariaan Kotze, Talitha Els, Cronjé Lemmer en George Ramagaga se werke word onder meer hier uitgestal.

Die Potchefstroom Kunsvereniging nooi almal om ‘n draai by die uitstalling te maak om weer vir ‘n slag stadiger te kyk, dieper te voel en na te dink. Dit sal jou liefde vir kuns weer aanwakker en dalk is daar net ‘n werk wat jou sal aanraak, inspireer en herinner aan die krag van kreatiwiteit wat in ons menswees is.

Die uitstalling duur tot 21 Februarie. Galery-ure is van Maandag tot Saterdag van 9:00 – 19:00. Vir navrae stuur ‘n e-pos na potchkuns@gmail.com.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button