Bek-en-klouseer: Potch boere staan saam te midde van ekonomiese impak (VIDEO)
Bek-en-klouseer affekteer tans talle boere in die Potchefstroom-distrik, veral op ekonomiese vlak. Te midde van talle uitdagings is daar 'n eenheid onder boere in die distrik om dié nasionale krisis te oorkom.
Bek-en-klouseer affekteer tans talle boere in die Potchefstroom-distrik, veral op ekonomiese vlak. Omdat hierdie virussiekte deur die staat beheer word, moet boere aan streng protokolle voldoen wat in plek gestel is. Die langdurige impak van ’n kwarantynperiode, sowel as die wagtyd vir toetsuitslae, kan boere se bedrywighede tot ’n algehele stilstand bring.
Spanwerk en eenheid is tans van die belangrikste sleutels vir plaaslike boere om die wa deur die drif te trek.
Daar is egter lig in die tonnel, danksy die werk van die Potchefstroom Distriks Boerevereniging, waaronder die Mooirivier Studiegroep en die Potch Akkerbou Studiegroep val.
“Ons doen ‘n beroep op die gemeenskap om vir ons boere in hierdie tyd te bid. Ons besef nie altyd die krag van gebed nie. As ons hierdie uitdaging as ‘n gemeenskap voor die voete van die Here kan lê, dan weet ons Sy wil sal geskied en daar sal uitkoms wees.” – Murray Deacon (voorsitter van die Potchefstroom Boerevereniging).
Die Herald het met die voorsitter van die Mooirivier Studiegroep, Awie Barnard, en die voorsitter van die Potchefstroom Distriks Boerevereniging, Murray Deacon, gesels oor die impak van bek-en-klouseer tans onder die Potch boerederygemeenskap.
(Lees die uitgebreide onderhoud in Donderdag, 29 Januarie se gedrukte uitgawe van die Potchefstroom Herald)
Kyk die video hier:
Wat is Bek-en-klouseer?
Bek-en-klouseer is ‘n ernstige, hoogs aansteeklike virussiekte van vee wat ‘n ekonomiese impak het.
Tekens van Bek-en-klouseer sluit in:
• Blase en sere in die mond (tandvleis, lippe en tong) wat rou en pynlik is.
• Diere kwyl gewoonlik weens hierdie blase en sere.
• Diere kry ook blase en sere tussen die tone en waar die hoewe by die vel aansluit. Dit kan dan veroorsaak dat diere mank is en nie wil rondloop nie.
• Diere verloor ook gewig weens ‘n gebrek aan eetlus.



