Local newsNewsNews

Potchefstroom se slangekenner benodig nuwe wiele

Sy liefde vir die natuur en diere het egter lank voor enige formele opleiding begin.

In Potchefstroom is daar sekere name wat nie bekendheid soek nie, name wat mense eenvoudig ken omdat hulle altyd daar is wanneer hulp benodig word. Een van dié name is Pieter ‘Goose’ Goosen, ‘n man wie se passie vir die natuur en diere oor jare heen ‘n onmisbare diens aan die gemeenskap geword het.

Nou het inwoners die geleentheid die guns terug te bewys.‘n Back-a-Buddyveldtog is onlangs van stapel gestuur om fondse in te samel vir ‘n nuwe bakkie vir Piet. ‘n Noodsaaklike hulpmiddel wat hom sal help om sy werk veilig en volhoubaar voort te sit.

Piet is in Potchefstroom gebore en getoë. Hy het skoolgegaan by Laerskool Baillie Park en HTS Potchefstroom, en later aan die Noordwes-Universiteit (PUK) studeer. Sy liefde vir die natuur en diere het egter lank voor enige formele opleiding begin.

“My pa het my van kleintyd af geïnspireer om met diere te werk. Reptiele en wild was ons albei se passie,” vertel hy.

Daardie vroeë blootstelling het die grondslag gelê vir ‘n lewenslange roeping. Nadat hy gesien het hoeveel mense uit vrees en onkunde slange onnodig doodmaak, het hy begin om hulle te vang en veilig te hervestig. Vandag strek sy sorg na alle wilde diere in nood, ’n passie wat verder aangewakker is nadat hy saam met René Jordaan begin werk het.

Hy doen dit alles sonder ‘n vaste inkomste, maar altyd met dieselfde toewyding en glimlag waarvoor inwoners hom ken. Hoewel baie mense Piet as die gesig van die reddingswerk sien, beklemtoon hy dat hy nie alleen werk nie.

“Jy is net so goed soos die span agter jou,” sê hy, en noem die ondersteuning van toegewyde veeartse soos Waldo by Morvet en Jannes by Bovivet, asook ander helpers wat help om diere die beste moontlike sorg te gee.

Wanneer Piet nie besig is met reddingswerk nie, geniet hy dit om foto’s te neem, met diere te werk, musiek te luister, kuns te skep, kos te maak en te reis. Vir Piet gaan dit nooit net oor die redding van ‘n enkele dier nie, maar oor opvoeding en bewaring.

“My droom is dat mense skilpaaie in die veld sal los wanneer hulle met vakansie gaan, dat mense ophou om slange dood te maak en verstaan hoe belangrik hulle rol in die ekosisteem is. Kennis is mag.”

Hy hoop ook dat mense sal stop om diere self te probeer behandel sonder kennis, aangesien baie van dié gevalle tragies eindig.

“Ons het net een wêreld. Ons moet daarna kyk. Ek hoop kinders kan eendag sien wat ek sien, dat ‘n kind nie net ‘n skilpad of slang in ‘n boek hoef te sien nie.”

Vir jare het Piet op oproepe reageer, dag en nag, om diere en mense te help, sonder om ooit iets terug te vra. Vriendelikheid en passie alleen betaal ongelukkig nie vir brandstof of voertuigherstelwerk nie. Die doel van die fondsinsameling is om vir Piet ’n betroubare bakkie aan te skaf sodat hy vinniger en veiliger op noodoproepe kan reageer.

Vir baie Potchefstromers is dit ‘n geleentheid om dankie te sê aan iemand wat reeds soveel gegee het. Om by te dra tot die veldtog, besoek https:// www.backabuddy.co.za/ campaign/bakkie-forpieter-goosen?

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button