Local newsNewsNews

Rioolramp by Landboukollege eersdaags opgelos

Nou lyk dit egter of die langverwagte oplossing uiteindelik binne bereik is.

Daar is uiteindelik lig aan die einde van die tonnel vir inwoners en besighede wat al maande lank gebuk gaan onder ’n ernstige rioolkrisis by die Landboukollege in Potchefstroom.

Teen Woensdagmiddag, 18 Februarie, was die diep rioolgat wat oopgegrawe is vir herstelwerk droog, en spanne het goeie vordering gemaak met die terugplasing van die beskadigde pyp. Teen laatmiddag moes slegs ’n kleiner gedeelte van die pyp nog vervang word voordat die groot uitgrawing weer toegemaak kon word.

Geen presiese tydraamwerk

Hoewel daar nog geen presiese tydraamwerk is vir wanneer die stelsel volledig herstel sal wees nie, dui die jongste ontwikkelinge daarop dat die situasie binnekort opgelos kan wees, tot groot verligting van inwoners wat al maande lank met ’n ondraaglike stank en gesondheidsrisiko’s leef.

DA-wyksraadslid van Wyk 4, Johan Zerwick, het inwoners gevra om net nog ’n bietjie vas te byt. Volgens hom is die einde van die krisis nou in sig.

Probleem het in Desember ontstaan

Die probleem het reeds middel Desember begin toe ’n 600mm sementpyp op ’n hoofrioollyn, wat afvalwater vanaf Ikageng en Potchindustria vervoer, ingegee het. Die pyp loop onderdeur die Landboukollege na die rioolplaas, en die infrastruktuurfaling het tot ’n ernstige ophoping van rou riool gelei. Afvalwater het deur stormwaterdreine begin vloei en uiteindelik in die Mooirivier beland.

Sleutelinstellings, waaronder die Abraham Kriel Kinderhuis en die Landboukollege, sowel as omliggende woongebiede, is direk deur die krisis geraak.

“Ons praat hier van ’n ernstige gesondheidsgevaar, ’n ondraaglike stank en die besoedeling van ’n kosbare natuurlike hulpbron,” het Zerwick vroeër gesê.

Munisipaliteit reageer

Die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit het bevestig dat die rioolstorting by Abraham Kriel verband hou met die ineengestorte rioollyn by die Landboukollege. Volgens munisipale woordvoerder, Jeanette Tshite, het die infrastruktuurfaling veroorsaak dat riool in oop veld invloei voordat dit verder na die stormwaterdreineringstelsel beweeg het.

Die munisipaliteit se Tegniese Dienste-span het die situasie geassesseer en noodmaatreëls ingestel om die oorloop te bestuur en die impak op omliggende gebiede te beperk. Permanente herstelwerk is tans aan die gang om verdere stortings te voorkom.

Die situasie was nie sonder uitdagings

Die herstelproses het egter uitdagings opgelewer. Teen 13 Februarie is uitgrawings gedoen om rioolvloei in die stormwaterdreine te herlei sodat dit by ’n volgende mangat kon terugvloei. Volgens Zerwick het riool steeds verbygevloei, terwyl werkers aanvanklik nie naby die opgegrawe gat kon werk nie omdat dit met rioolwater gevul was.

Teen 17 Februarie is verdere opgrawings en herstelwerk aangepak, met nuwe pype en materiaal wat reeds by die terrein afgelaai is. Ten spyte hiervan het riool steeds die omgewing en die Mooirivier besoedel, wat kommer oor langtermyn-gesondheids- en omgewingsimpakte laat toeneem het.

Met kinders en instellings in die onmiddellike omgewing het die druk op die munisipaliteit gegroei om die herstelwerk dringend en doeltreffend af te handel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button