Die NWU spits nou al hulle aandag op UJ, hulle volgende opponent in die Varsitybeker.
Die Eagles, wat in twee wedstryde onoorwonne is, kom teen die manne van Johannesburg op Maandag, 2 Maart op UJ se tuisveld te staan. UJ het verlede week teen Maties in Stellenbosch klei getrap, nadat hulle halftyd met 16-8 voorgeloop het. ‘n Begeesterde Maties het toe in die tweede helfte opgedaag en vir UJ met 39-19 geklop.
Die manne van Potchefstroom het aan die wenkant verlede Maandag geëindig met ‘n reuse 63-15 sege teen die Emeris.

NWU hoofafrigter, Burger van der Westhuizen, weet dat UJ ‘n ander uitdaging sal wees, veral op hul tuisveld.
“UJ is altyd moeilik op hul tuisveld in Johannesburg. Hulle is ‘n baie goeie span. Hulle is fisies en het baie goeie verdediging. Ons gaan op ons beste moet wees om punte uit daardie wedstryd te kry,” sê Van der Westhuizen.
Die NWU se sterkpunte teen die Emeris was hul aanvallende spel en intensiteit. Tog is daar steeds baie werk wat ingesit moes word voor Maandag se UJ-stryd.
“Ons het oor die algemeen (teen Emeris) meer aanvallend gespeel en bal in hand gehou het. Daar is wel nog baie aspekte wat ons as ‘n span aan kan werk. Ons verloor te veel balle, staan te veel strafskoppe af. Sekere fasette van die spel was vir ons nie goed genoeg nie, so daar is nog baie werk,” noem hy.

Die tuisspan het vir ‘n tweede agtereenvolgende wedstryd ‘n bonuspuntoorwinning behaal en weer nege drieë gedruk. Therlow Prins, die blitsige linkervleuel, het weer ‘n driekuns behaal en is toepaslik as die speler van die wedstryd aangewys.
“Therlow is ‘n special speler. Gisteraand se drieë was presies anders as die vorige week se drieë. Hy doen sy werk. Ek geniet hom baie,” noem Van der Westhuizen.
Die wedstryd teen UJ begin op Maandag, 2 Maart om 16:45.



