Gimmie beseer na afleweringsmotorfiets hom tref
‘n Graad agt-leerder van Potchefstroom Gimnasium het sy skedel gekraak en sy elmboog beseer nadat ‘n afleweringsmotorfiets hom buite die skool gestamp het.
‘n Graad agt-leerder van Potchefstroom Gimnasium het sy skedel gekraak en sy elmboog beseer nadat ‘n afleweringsmotorfiets hom buite die skool gestamp het.
Marvin Abrahams (13) is op Donderdag, 26 Februarie, raakgery toe hy die pad wou oorsteek. Die ongeluk het net ná skoolure in Molenstraat plaasgevind.

Gimmies se personeel het vinnig gereageer. Een van Gimmies se bestuurslede, juf. Madeleine Gerber, was gou op die toneel en het tot op die einde gebly, tesame met die skoolhoof, mnr. Michael van der Merwe, wat haar ondersteun het. Polisie-en ambulansdienste is ontbied en het vinnig op die toneel opgedaag, asook sy ma en ‘n kollega. Hy is kort daarna na Potchefstroom Hospitaal vervoer.
Volgens sy ma, Lizzy Diseko, is Marvin die afgelope Saterdag uit die hospitaal ontslaan.
“My hart was baie seer toe ek hoor dat hy gestamp is. Ek wou net daar by hom wees,” vertel Lizzy.
Sy noem ook dat haar seun nog swak is.
“Hy is maar nog bietjie duiselig ná die ongeluk en is ook in pyn,” sê sy.
Volgens Van der Merwe is daar verskeie veilige areas waar leerders die pad kan oorsteek, met ten minste drie spoedhobbels en sebrastrepe.
“Maatreëls en algehele veiligheid vorm ‘n sleuteldeel van die LO-kurrikulum. Dit bly wel moeilik om te beheer wat buite die skool gebeur,” noem hy.
‘n Saak van roekelose en nalatige bestuur is by die polisie oopgemaak.



