Die NWU Eagles se onoorwonne rekord in vanjaar se Varsity Cup-toernooi is tot ’n einde nadat hulle vanmiddag (Maandag, 2 Maart) met 35-29 teen UJ in Johannesburg verloor het.
UJ-kaptein en agtsteman, Thabang Mphafi, het in die 78ste minuut oorgeduik om sy span ’n merkwaardige oorwinning te besorg. UJ se buitesenter, Exauce Kevani, het verby ’n paar NWU-verdedigers geglip voordat Mphafi die res gedoen het.

Die NWU sal bitter ongelukkig wees met hoe hulle nie die wen kon verseker nie, veral nadat hulle hard in die tweede helfte teruggeveg het. UJ het met 28-14 teen rustyd voorgeloop.
Vir die derde agtereenvolgende wedstryd het ’n NWU-speler ’n driekuns van drieë behaal, met die steelkantflank, Ricardo Fourie, wat drie keer oor die doellyn geduik het. Sy derde drie was tydens ’n kragspel wat die Eagles suksesvol uitgevoer het.

Luan van der Walt en Jordan McLoughlin het ook vir die NWU gaan druk. MJ Mostert kon net een drie verdoel. Vir UJ was Zian Cilliers op skrumskakel skitterend en is as speler van die wedstryd aangewys. UJ se regtervleuel, Ughan Africa, het ook ’n skouspelagtige drie gedruk toe hy die NWU-vaskopstut, Jason Oosthuizen, summier uit die pad gestamp en onder die pale gaan druk het.

Christiaan Kotze/Asemengage
Die NWU sal nou moet verbeter op hierdie vertoning, waar die eerste helfte nie ’n weerspieëling van hul talent was nie. Hulle sal vinniger uit die blokke moet kom om nie weer die wedstryd te jaag nie.
Dit raak nie makliker vir die NWU nie met ‘n wegwedstryd op Maandag, 9 Maart teen Shimlas in Bloemfontein wat volgende voorlê.



