Potchefstromer in Dubai: Waaksaamheid, maar nie chaos nie
Haar hoop is dat enige verdere ontwikkelings tot groter stabiliteit en menswaardigheid in die streek sal lei.
Terwyl spanning in die Midde-Ooste toeneem gedurende die Iran-konflik in die streek, sê die oud-Potchefstromer en sakevrou Leonè Phillipson (36) dat die lewe in Dubai gestruktureerd op grondvlak voortgaan, ten spyte van harde ontploffingsgeluide in die lug.
Leonè, ’n oudleerder van Laerskool Mooirivier en Hoërskool Ferdinand Postma, en ’n gegradueerde van die Noordwes-Universiteit, woon sedert Mei 2022 in die Verenigde Arabiese Emirate (VAE).
“Hier in die VAE is dit tans kalm en dinge gaan normaal voort. Supermarkte is oop, aflewerings vind plaas, mense gaan werk toe en besighede funksioneer soos gewoonlik. Daar is geen tekens van paniek in die daaglikse lewe nie.”
Die lugruimte is egter tans gesluit, wat reisplanne ontwrig. Leonè sou op 5 Maart Kaapstad toe vlieg vir die Kaapstad-fietstoer.
“Dit plaas mens in ’n posisie waar jy prakties moet begin beplan en risiko’s opweeg, nie net of jy kan uitvlieg nie, maar ook of en wanneer jy weer kan terugkeer.”
Sy erken dat daar oor die naweek benoude oomblikke was.
“Elke keer wanneer ’n missiel onderskep word, is daar ’n geweldige harde ontploffingsgeluid. Die enigste manier hoe ek dit kan beskryf, is soos wanneer die weermag veld-oefeninge in Potchefstroom doen, maar vermenigvuldig met 10. Dis ’n geluid wat jou bewus maak van wat in die lug gebeur.”
Tog beklemtoon sy dat die verdedigingstelsels in die VAE gevorderd is.
“Die reaksietyd en tegnologie gee ’n gevoel van beheer en beskerming. Ons het nog nie een oomblik onveilig gevoel nie. Daar is waaksaamheid, maar nie chaos nie.”
Leonè is oorspronklik in Walvisbaai gebore toe Namibië nog Suidwes-Afrika was. Haar pa was ‘n artilleris, en sy beskryf haarself as ’n sogenaamde army brat. Sy het aanvanklik Dubai toe verhuis vir ’n werksgeleentheid in die fietsbedryf, ’n natuurlike verlengstuk van haar lewenslange betrokkenheid by sport en fietsry.
In 2023 het sy na die korporatiewe wêreld teruggekeer om strategiese en operasionele ervaring op te doen. Teen 2024 het sy haar eie digitale bemarkingsonderneming begin, met ’n fokus op handelsmerkbou en sportprojekte, en in September 2025 het sy die eienaar van Hopatec Sports Services, ’n sport- en gebeurtenisbestuursmaatskappy in die streek geword.
“Sport bly die goue draad deur my loopbaan in die VAE,” sê sy. “Dubai bied ’n unieke omgewing waar sport, entrepreneuriese geleenthede en internasionale blootstelling saamvloei. Dis hoekom ek hier gebly en verder gebou het.”
Sy sê haar militêre agtergrond het haar perspektief gevorm.
“Ek voel kalm, maar nie naïef nie. My pa het ons van kleins af geleer jy raak nie paniekbevange oor dinge buite jou beheer nie. Jy bly ingelig, jy bly voorbereid en jy reageer nie emosioneel nie.”
Volgens haar funksioneer Dubai en die VAE in ’n gestruktureerde en beheerde omgewing waar veiligheid ’n prioriteit bly.
“Daar is natuurlik ’n mate van bewusheid wanneer daar geopolitieke spanning is. Jy kan dit nie ignoreer nie, maar daar is nie paniek of chaos nie. Dinge funksioneer normaal, met dissipline en doelgerigtheid.”
Sy waarsku ook teen vereenvoudigde sienings oor Iran.
“Dis belangrik om te onderskei tussen ’n regering en ’n bevolking. Ek het Iranese vriende hier, en dit verander jou perspektief wanneer jy eerstehands hoor hoe beperk die omstandighede vir baie gewone mense is. Mens kry nie altyd die volle prentjie deur Westerse media nie.”
“Ware, volhoubare verandering moet van binne ’n land kom. Dit is die mense self wat dit moet dra.”

Op grondvlak bly haar daaglikse lewe grootliks onveranderd.
“Ons het vanoggend 7:00 gaan fietsry soos altyd. Ons hou doelbewus by roetine. Niks in Dubai is gebombardeer nie. Wat wel gebeur het, is dat daar puin geval het ná die onderskepping van missiele buite die stad. Dis ’n belangrike onderskeid.”
Sy woon sowat 1km van Al Minhadlugbasis af en hoor gereeld vegvliegtuie.
“Ironies genoeg gee dit vir my ’n gevoel van gerustheid. Dis ’n tasbare herinnering dat die verdedigingstelsels aktief en paraat is.”
Supermarkte is vol voorraad, restaurante en strande is oop, hoewel skole as voorsorg gesluit is en baie mense van die huis af werk. Gevra waar sy tans veiliger voel, in Suid-Afrika of Dubai, antwoord sy met ’n skerp metafoor.
“Dis soos daardie vraag: sal jy eerder teen ’n man of teen ’n beer veg? Ek kies die beer.” Sy verduidelik: “Ek voel veiliger hier as wat ek in my eie land gevoel het. Hier kan ek as vrou alleen funksioneer, vroegoggend fietsry, alleen winkels toe gaan, my motor parkeer sonder om oor my skouer te kyk. Daardie basiese gevoel van persoonlike veiligheid moet ’n mens nie onderskat nie.”
Hoewel sy beklemtoon dat Suid-Afrika altyd haar tuiste sal bly, is haar antwoord nugter.
“As ek objektief moet wees oor waar ek op hierdie oomblik veiliger voel, dan is dit hier.”



