Student geskors ná vandalisering van LGBTQIA+-vlag by NWU
Die student, wat vir een jaar geskors is, is met hulp van kringtelevisiebeeldmateriaal aangekeer.
’n Student aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroomkampus is vir een jaar geskors nadat hy skuldig bevind is aan haatspraak en opsetlike saakbeskadiging, ná die vandalisering van ’n LGBTQIA+-vlag vroeër vanjaar.
Die voorval het op 2 Maart plaasgevind en het wye reaksie onder studente en die kampusgemeenskap ontlok, met baie wat dit as ’n haatdaad beskryf het. Die universiteit het destyds bevestig dat ’n klag by die SAPD aanhangig gemaak is en die daad ten sterkste veroordeel.
Volgens die NWU is die student nou skuldig bevind en die dissiplinêre proses afgehandel, wat tot sy skorsing gelei het. Die student het egter intussen appèl aangeteken teen die sanksie, wat tans verwerk word. Ingevolge die universiteit se dissiplinêre beleid bly die skorsing van krag totdat die appèlproses afgehandel is.
Die universiteit het in ‘n verkaring beklemtoon dat die sanksie ’n duidelike boodskap stuur dat optrede wat lynreg teenoor sy waardes en etos staan, nie geduld sal word nie.
“Dit is ’n onaanvaarbare daad wat lynreg teenoor ons waardes en etos staan,” het die NWU in ’n vorige verklaring gesê.
NWU woordvoerder, Louis Jacobs, het weer beklemtoon dat die instelling verbind bly tot die bevordering van respek en inklusiwiteit op kampus.
“As ’n instelling bly ons daartoe verbind om ’n omgewing van respek en insluiting te bevorder. Ons is trots daarop dat ons die waardigheid van alle lede van ons gemeenskap handhaaf en beskerm, ongeag ras, politieke affiliasie, godsdiens, geslag of seksuele oriëntasie. Optrede wat daarop gemik is om ’n gevoel van behoort te ondermyn, sal nie geduld word nie,” het hy gesê.
Die universiteit het ook studente en personeel aangemoedig om enige diskriminerende optrede of voorvalle aan te meld, en beklemtoon dat die beskerming van alle lede van die kampusgemeenskap ’n prioriteit bly.



