Local newsNewsNews

Opruim en veiligheid in fokus in Potchefstroom

Die plaaslike gemeenskap het die inisiatief positief ontvang, met verskeie inwoners wat tydens die aksie stilgehou het om hul ondersteuning te wys en meer uit te vind oor die projek.

’n Groep van 11 studente van die NWU se Kruispunt Society het onlangs hande gevat met Love Potch om ’n tasbare verskil in die gemeenskap te maak, met ’n skoonmaak- en veiligheidsaksie in die omgewing agter die Groen Wilgers-aftreeoord.

Die projek is deur Love Potch geïdentifiseer, wat ook die logistiek, administrasie en voorsiening van toerusting en persoonlike beskermende toerusting (PPE) hanteer het. Tydens die aksie is twee bakkievragte takke en stompe verwyder, asook 12 swartsakke vol vullis. Onder die rommel was daar ook dwelmnaalde wat veilig opgetel en verwyder is.

Studente tydens die skoonmaak-aksie. Foto: Verskaf.

Benewens die opruimingswerk het Love Potch ook ’n sekuriteitsverwante patrollie-aksie geloods. Die span het areas rondom die treinspoor deeglik deursoek vir tekens van kriminele aktiwiteite, insluitend onwettige skuilings, vuurmaakplekke in die bos en roetes wat deur kwaaddoeners gebruik kan word.

Volgens Arno van den Berg van Love Potch is die doel van die aksie nie net om skoon te maak nie, maar om proaktief veiligheid te verbeter.

“Ons fokus daarop om potensiële gevaarareas vroegtydig te identifiseer, risiko’s aan instansies soos die CID en Mooirivier Beskerming deur te gee, en betekenisvolle terugvoer aan gemeenskappe te verskaf oor die veiligheid van hul woonbuurte,” het hy gesê.

Die Cachet Park City Improvement District (CID) het intussen hul dankbaarheid teenoor Love Potch uitgespreek vir hul bydrae tot die opruiming en beveiliging van die area.

Leandro de Beer van die CID het beklemtoon dat sulke samewerking ’n werklike verskil maak.

Naalde wat tydens die insident opgetel is. Foto: Verskaf.

“Hierdie tipe vennootskap is presies wat ons nodig het, organisasies en individue wat saamwerk om ons gemeenskap op te hef, te beskerm en te versorg. Die werk wat gedoen is, dra nie net by tot ’n netjiese omgewing nie, maar skep ook ’n veiliger ruimte vir ons bejaarde inwoners en die breër gemeenskap,” het hy gesê.

Van den Berg het egter daarop gewys dat projekte soos dié afhanklik is van finansiële ondersteuning vanuit die gemeenskap.

“Love Potch kan slegs sulke aksies aanpak as daar befondsing beskikbaar is. Dit is dikwels gewone mense uit verskillende buurte wat klein bydraes maak wat ons in staat stel om ’n groot impak te hê. Selfs ’n maandelikse R50 kan help om werklik verandering te bring,” het hy verduidelik.

Hy het bygevoeg dat die uitdagings in Potchefstroom nie deur een organisasie alleen opgelos kan word nie.

“Dit gaan ’n spanpoging verg om die reuse nood in ons dorp aan te spreek.”

Die projek dien as nog ’n voorbeeld van hoe samewerking tussen studente, gemeenskapsorganisasies en veiligheidsinstansies ’n merkbare verskil kan maak, nie net in die voorkoms van ’n gebied nie, maar ook in die gevoel van veiligheid en samehorigheid onder inwoners.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button