Local newsNewsNews

‘n Stille somerbedreiging vir perdeienaars

Dr. Marleece Jordaan gesels oor die ernstige bedreiging wat Afrika Perdesiekte (APS) vir perdeienaars inhou.

Wanneer die somerreën begin uitsak en die lug swaar raak van vog, bring dit nie net nuwe lewe nie, dit bring ook ‘n onsigbare gevaar vir perde. Volgens Dr. Marleece Jordaan, eienaar van die Potch Mooirivier Dierekliniek, is Afrika Perdesiekte (APS) een van die ernstigste bedreigings waarmee perdeienaars in Suid-Afrika te doen kry.

Dr. Jordaan, wat in Namibië gebore is en haar studies aan Onderstepoort voltooi het, het ‘n diepgewortelde passie vir diere, veral perde. Ná haar staatsdiens by die weermag in Potchefstroom, waar sy hoofsaaklik met perde en honde gewerk het, het sy verdere ondervinding in Parys opgedoen en daarna vir drie jaar in ‘n perdepraktyk buite Potchefstroom gewerk. In Oktober 2024 het sy haar eie praktyk oorgeneem, vandag een van die enigstes in die omgewing wat spesifiek op perde fokus.

Dr. Marleece Jordaan

“Afrika perdesiekte is nie net nog ‘n siekte nie, dit is ‘n hoogs dodelike virus wat vinnig en stil toeslaan,” verduidelik sy. “Wat dit nog meer uitdagend maak, is dat dit nie direk van perd tot perd versprei nie, maar uitsluitlik deur klein Culicoides-muggies oorgedra word.”

Hierdie muggies broei in klam, vogtige areas, wat verduidelik hoekom die siekte veral in die somer en reënseisoen voorkom. Tog beteken dit nie dat perde in die winter heeltemal veilig is nie.

“Ons het al gevalle buite seisoen gesien. As die winter nie koud genoeg is om die muggies met ryp uit te wis nie, kan hulle oorleef en steeds die virus versprei,” waarsku Jordaan.

Sy voeg by dat dit gewoonlik ‘n paar dae se harde ryp neem om die muggies effektief uit te skakel.
Die muggies is die aktiefste tydens skemer, net voor sonop en net ná sononder, wat dit kritieke tye maak vir perde-eienaars om ekstra waaksaam te wees. Een van die mees ontstellende aspekte van Afrika Perdesiekte is hoe vinnig dit toeslaan.

Die siekte kom in drie verskillende vorme voor:

Dikkopvorm: Hierdie vorm word gekenmerk deur erge swelling van die kop, wat later na die nek en bors versprei. Dit is die mees algemene vorm en dra ‘n hoë sterftesyfer.

Dunkopvorm: Die gevaarlikste van almal. “Hierdie vorm gee bykans geen waarskuwingstekens nie. Baie eienaars vind hul perde die volgende oggend dood, met skuim by die bek,” sê Jordaan. Die sterftesyfer kan tot 90% wees.

Gemengde vorm: Minder algemeen, maar steeds ernstig, aangesien dit die hart affekteer en vinnig kan versleg.

Daar is tans 12 bekende stamme van die Afrika Perdesiekte-virus, wat beteken dat beskerming kompleks is. Perde word jaarliks ingeënt tussen Mei en Oktober, ‘n proses wat twee inspuitings behels wat 21 dae uitmekaar gegee word.

Beskerming teen muggies. Foto: Equi-Strath

“Die entstof is uiters effektief om ernstige siekte te voorkom. Jou perd kan steeds blootgestel word, maar hy sal ‘n baie beter kans hê om te oorleef,” verduidelik Jordaan. “Sonder enting is die kans op oorlewing bykans nul.”

Sy trek ‘n eenvoudige vergelyking: “Dink daaraan soos ‘n griepinspuiting by mense, dit keer nie altyd dat jy blootgestel word nie, maar dit beskerm jou teen die ergste simptome.”

‘n Groot uitdaging bly egter die beskikbaarheid van entstof. Dit word slegs deur Onderstepoort vervaardig, en tekorte in die verlede het rampspoedige gevolge gehad.

“Ons het tye beleef waar daar eenvoudig nie entstof was nie, en perde het op groot skaal gevrek,” sê sy.

Volgens wetgewing moet alle perde, nie net kompetisieperde nie, ingeënt wees. Kompetisieperde moet boonop ‘n geldige paspoort hê wat hul entings bevestig. Omdat Afrika perdesiekte so ‘n groot risiko inhou, word dit streng gereguleer. Elke geval moet onmiddellik by die staatsveearts aangemeld word. Tog gebeur dit nie altyd nie.

“Sommige mense is bang om dit aan te meld, en ander besef nie eers dit is APS wat hul perd doodgemaak het nie,” sê Jordaan. “Dit word gereeld met ander oorsake soos slangbyte verwar.”

Suid-Afrika is in drie sones verdeel om die verspreiding te beheer:

APS-besmette sone: Gebiede waar die siekte gereeld voorkom.
APS-buffersone: ‘n Beheerde area waar perde gekwarantyn word.
APS-vrye sone: Die Wes-Kaap, die enigste streek in die land waar die siekte nie voorkom nie.

Perde wat na die Wes-Kaap vervoer moet word, gaan deur streng kwarantynprosesse. Dit sluit bloedtoetse en wagtydperke van minstens 21 dae in, voordat hulle toegelaat word om die gebied binne te gaan. Dieselfde geld vir perde wat van oorsee ingevoer word.

“Hierdie stelsels is nie daar om mense te frustreer nie, dit is noodsaaklik om die vrye sone te beskerm,” beklemtoon sy.

Praktiese stappe om jou perd te beskerm:

Met so ‘n ernstige siekte is voorkoming die enigste werklike verdediging. Dr. Jordaan beveel die volgende aan:

  • Ent jou perd jaarliks en betyds. Perde kan vanaf 6 maande oud geënt word.
  • Gebruik ‘n sterk insekweerder, veral op die bene, maag en lieste, twee keer per dag.
  • Bedek perde met insektekomberse, maar onthou dit bied nie volledige beskerming nie.
  • Hou perde binne/ op stal tussen sononder en sonop, wanneer muggies die aktiefste is.
  • Vermy klam areas, staande water en moerasse waar muggies broei.

“Die goeie nuus is dat hierdie muggies nie maklik geboue binnegaan nie, so stalle bied ‘n mate van beskerming,” voeg sy by.

Afrika perdesiekte bly ‘n stille, maar verwoestende bedreiging wat binne ure lewens kan eis. Vir baie perde-eienaars is dit nie net ‘n finansiële verlies nie, maar ook ‘n emosionele een.

“Perde is nie net diere nie , hulle is deel van families en gemeenskappe,” sê Jordaan. “Daarom is dit so belangrik dat eienaars ingelig bly en alles moontlik doen om hul diere te beskerm.”

Met die regte kennis, tydige optrede en verantwoordelike bestuur, kan baie van hierdie
 verliese voorkom word.

“Wanneer dit by Afrika perdesiekte kom, is voorkoming nie ‘n opsie nie, dit is ‘n noodsaaklikheid.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Tania Coetzee

I am a passionate journalist and photographer. I have been a photographer for 15 years and a journalist for 4 years. I recently started working for Potchefstroom Herald. I love writing people's stories and showcasing their inner beauty through photography.

Related Articles

Back to top button