Gimmies maak hierdie week weer hul merk
Of dit nou op 'n perd, tennisbaan of skietpunt is, Gimmies hou aan om hul merk te maak.
Leerders van Potchefstroom Gimnasium het die afgelope week weer bewys dat toewyding, talent en harde werk hand aan hand loop, met indrukwekkende prestasies oor verskeie sportsoorte heen.
Gimmies by SANESA
Tydens die SANESA kwalifiserende byeenkoms in Brits het Gimmie-ruiters uitmuntend gevaar en hulself behoorlik laat geld.
Karien van Wyk het twee eerste plekke in 1 m Showjumping behaal, terwyl sy ook eerste geëindig het in Working Hunter (90 cm). Rachel Boshoff het ’n besonder sterk vertoning gelewer met verskeie eerste plekke in onder meer Equitation, Showjumping, Working Riding en Working Hunter, asook ’n tweede plek in Performance.
Minette le Roux spog met twee eerste plekke in Showjumping, Dresseer Prelim en ‘n derde plek in Working Riding.

SJ Janse van Rensburg het ook uitgeblink met eerste plekke in Jumping en Working Riding, en Bianca Janse van Rensburg het waardevolle plasings behaal in Performance Riding en Showjumping.
Die ruiters se harde werk en toewyding is duidelik sigbaar in hul prestasies.

Glans by atletiek-gala
Die jaarlikse atletiek-gala-aand was nóg ’n hoogtepunt op die skool se Kalender, ’n aand waar uitnemendheid gevier is en Gimmie-atlete vir hul prestasies vereer is. Laerskoolatlete uit die omgewing het ook die geleentheid bygewoon en kon eerstehands deel in die Gimmie-gees.
Onder die bekwame leiding van atletiekdirekteur Cyril Lawless en sy span is ’n besonderse geleentheid aangebied. Die gehoor is verder geïnspireer deur die motiverende boodskap van Suid-Afrikaanse korthekkie-atleet Franco le Roux, wat sy pad na sukses gedeel het onder leiding van afrigter Shaun Bownes.
Verskeie atlete is tydens die aand vereer, met Stephané Hook wat as Atleet van die Jaar aangewys is. Lezanke Pienaar en Vinaldo Spamers het onderskeidelik die Senior Victrix en Victor Ludorum-titels ontvang, terwyl Hayley Lues en Rea Manyaapelo as Junior Victrix en Victor Ludorum bekroon is.
Die aand was ’n ware viering van talent, deursettingsvermoë en Gimmie-trots.

Gimmies op die skietbaan
Op die skietbaan het Gimmie-skuts weer hul staal gewys tydens die derde liga-byeenkoms.
In die o.14-afdeling het Anja Saaiman die eerste plek behaal en boonop uitgeblink met die hoogste tellings in verskeie posisies. In die o.16-afdeling het Creston Lloyd koning gekraai, met Brigitte Puttkamer en Gerhard Engelbrecht kort op sy hakke. Engelbrecht het ook verskeie individuele topprestasies gelewer. In die o.21-afdeling het Hailey Nagel die eerste plek ingepalm en ook individuele eerbewyse ontvang, terwyl Casper Badenhorst en René Kotzé sterk vertonings gelewer het.

Hierdie prestasies getuig van die fokus, dissipline en deursettingsvermoë wat Gimmie-leerders kenmerk.



