Ma soek steeds antwoorde 7 maande na seun se dood
’n Moord in die middestad in April het ou wonde vir die ma van, Chris van der Wal wat in 2025 vermoor is, oopgekrap.
’n Nuwe moord in die middestad het ou wonde oopgekrap en vrae oor veiligheid en geregtigheid weer na vore gebring. Dit terwyl die familie van Chris van der Wal (31), wat sewe maande gelede vermoor is, steeds op antwoorde wag.
Die liggaam van ’n onbekende man is op 14 April omstreeks 06:00 op die hoek van Nelson Mandela- en Walter Sisululaan gevind. Hy het ’n steekwond aan sy nek gehad en was geklee in ’n groen hemp, blou broek en rooi-en-swart tekkies.
Kaptein Majang Skalkie van die Noordwes-polisie het bevestig ’n moordsaak word ondersoek.
“Geen verdagtes is nog in hegtenis geneem nie en die motief vir die aanval is in hierdie stadium onbekend,” het Skalkie gesê.
Van der Wal se liggaam is op 28 September 2025 ook in die middestad gevind. Hy het ook ‘n steekwond aan sy nek gehad. Sy ma, Alet de Ridder, sê die nuwe moord het haar diep geraak. Sy hoop dat geregtigheid sal geskied.
Volgens Alet is daar tot dusver min vordering in haar seun se saak. Sy voel die polisie gee vir hulle bitter min inligting. Chris se beursie met al sy bankkaarte en ID was by hom gevind. Sy selfoon en sleutels was egter in ‘n vriend se bakkie.
Die aand voor sy dood het Chris rugby gekyk en saam met vriende pool gespeel. ‘n Rusie het blykbaar later uitgebreek.
“Hulle het by GP’s ’n uitval gehad en langs die pad weer baklei. Chris het toe besluit om te loop, maar die vriend het hom later weer opgelaai,” verduidelik Alet.
CCTV-beeldmateriaal het gewys hoe Chris die N12 oorsteek terwyl hy sy nek vashou. Sy beskryf haar seun beskryf as iemand wat groot drome gehad het.
“Hy het daarna uitgesien om te kwalifiseer as ’n installasie-tegnikus. Hy was baie positief oor die toekoms.”
Noordwes polisiewoordvoerder Kolonel Adéle Myburgh noem dat daar nog geen verband tussen die twee moorde gevind is nie. Die polisie doen ’n beroep op enigiemand met inligting oor enige van die twee voorvalle om die Potchefstroom-polisie te kontak by 018 299 7477/6.



