Seekoeispore by plaasheining opgemerk
Die seekoei is weer gisteroggend gewaar in Oudedorp langs die Mooirivier. Die seekoei het ook skade aan 'n heining aangerig.
Dit blyk dat die seekoei wat oor die naweek by Boskopdam raakgesien is, nou nader aan Potch Dam se rigting beweeg.
Die spore van die beweerde seekoei is op Elizma Fuller se plaas in Oudedorp opgemerk. Die spore is relatief klein en dit kan moontlik op ’n jong seekoei dui.
Volgens Fuller het haar honde Maandagoggend, 11 Mei, omstreeks 03:00 vreeslik geblaf. Sy het eers gedink dit is die bure se bees.

“Ons plaas grens aan die Mooirivier, waar ons ’n bokkamp het. Vyftig meter van ons huis af is daar ’n draad wat die bokkamp afsper. Ek het met die jaglig gekyk en ’n mens kon duidelik sien dat die oë verder van mekaar af is, wat daarop dui dat dit die seekoei is. Ons het nader aan die draad beweeg en die seekoei het rustig omgedraai,” noem sy.
“Teen 05:00 dieselfde oggend het Fuller en die honde die spoor gevolg tot waar die seekoei deur die draad gebreek het. Daar was nogal baie skade. Die rivier het opgestyg en die seekoei het ’n uitweg gevind en terug rivier toe beweeg.”

Fuller het gistermiddag om 15:00 gesê dat hulle met ’n hommeltuig gaan kyk of hulle die seekoei verder kan opspoor.
Die soektog vir die seekoei duur nog voort.



