Gemeenskap staan saam vir dié wat oor Potch waak
Community in Blue is ’n gestruktureerde vrywillige misdaadvoorkomingsinisiatief van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat gewone burgers mobiliseer om as die “oë en ore” van wetstoepassers in hul woonbuurte op te tree.
’n Belangrike stap om gemeenskapsveiligheid in Potchefstroom te versterk, is Saterdag, 30 Mei geneem toe Love Potch en die Gemeenskapspolisiëringsforum (CPF) hande gevat het om die toegewyde vrywilligers van Community in Blue (CIB) te ondersteun.
Love Potch het 20 sakke met klere aan die lede van Community in Blue oorhandig. Elke sak het ’n hemp, broek, skoene en ’n baadjie bevat. Die CPF het ook CIB-baadjies en pette aan die vrywilligers geskenk.
Community in Blue is ’n gestruktureerde vrywillige misdaadvoorkomingsinisiatief van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) wat gewone burgers mobiliseer om as die “oë en ore” van wetstoepassers in hul woonbuurte op te tree. Die vrywilligers patrolleer strate, rapporteer verdagte aktiwiteite en help om misdaad te voorkom deur sigbare teenwoordigheid in die gemeenskap.

Volgens Chris Conradie, afdelingsleier van die CPF, is die huidige fokusgebied die Wandellaan- en Kerkstraat-omgewing.
“Ons hoof fokuspunt op hierdie stadium is Wandellaan en Kerkstraat. Ons wil graag uitbrei en meer vrywilligers werf sodat ons ’n groter gebied kan dek. Ons wil hierdie vrywilligers ook toerus met noodhulpopleiding en soveel ander kursusse as moontlik om hulle beter vir die taak voor te berei,” het Conradie gesê.
Arno van den Berg van Love Potch sê die organisasie sien die projek as ’n geleentheid om ’n direkte bydrae tot gemeenskapsveiligheid te maak.
“Love Potch werk saam met die CPF en SAPD aan die Community in Blue-projek. Die doel is om plaaslike wetstoepassers te ondersteun deur gemeenskapslede by sigbare polisiëringseenhede en gebiede regoor die dorp te betrek,” het van den Berg gesê.
Hy verduidelik dat die vrywilligers geen finansiële vergoeding ontvang nie en hul tyd op ’n suiwer vrywillige basis aanbied.

“Al 20 van die voltydse vrywilligers in die Community in Blue-projek is tans werkloos en dien gedurende die dag as vrywilligers. Hulle meld aan soos hul kapasiteit dit toelaat en word ontplooi volgens die veranderende behoeftes van polisiëring. Ons doel is om hul diens aan die gemeenskap die moeite werd en volhoubaar te maak terwyl hulle werk soek,” het hy gesê.
Van den Berg sê daar is steeds verskeie behoeftes wat aangespreek moet word om die projek suksesvol en volhoubaar te hou. Dit sluit daaglikse etes vir die vrywilligers, brandstof vir vervoer, flitsligbatterye, werksklere, stewels, rugsakke, fluitjies en opleiding in selfverdediging en situasiebewustheid in.
Daar is ook ’n voortdurende behoefte aan klere, skoene, skoonmaakmiddels en voedselskenkings wat tussen die groep verdeel kan word.
“Ons doen ’n beroep op individue en organisasies om hierdie projek te ondersteun. Dit het ’n direkte impak op die veiligheid van ons gemeenskap en die welstand van ons hele dorp,” het van den Berg gesê.
Besighede wat finansiële bydraes wil maak en Artikel 18A-belastingsertifikate benodig, kan ook geakkommodeer word.
Persone of organisasies wat betrokke wil raak of ’n skenking wil maak, kan van den Berg by 076 571 8480 kontak.

Kyk na die video hier:



